Central SA
Noordwes-man vrygespreek ná kroegmoord in Klerksdorp─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:29 Thu, 12 Dec 2024
’n Man van Noordwes wat daarvan aangekla is dat hy die dood van ’n jong man buite ’n kroeg veroorsaak het, is Woensdag (11/12) vrygespreek weens onvoldoende bewyse.
Frikkie Janse van Rensburg (33) is onskuldig bevind aan die moord op Wayne van Zyl (23) ná ’n onderonsie buite die Tipsy Cow-kroeg in Klerksdorp, sê Amanda Funani, Noordwes-polisiewoordvoerder.
“Daar nie genoeg bewyse dat Janse van Rensburg verantwoordelik was vir Van Zyl se dood nie.”
Die slagoffer is in die vroeë oggendure van 27 November 2022 dood nadat hy ’n breinbloeding opgedoen het, wat glo veroorsaak is deur skade aan ’n aar in sy nek. Hy was saam met sy meisie, Shanice van Loggerenberg, en sy broer, Michael, by die kroeg.
Wayne en Shanice. Foto: Facebook
Janse van Rensburg, wat hom ’n week later aan die polisie oorgegee het, het op 1 Desember 2022 sy eerste hofverskyning gemaak en is op borgtog van R3 000 vrygelaat.
Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder, het destyds gesê die ondersoek het aan die lig gebring dat die kroegman in ’n stadium geweier het om drank te bedien aan Van Zyl en die mense wat saam met hom daar was, maar dis onbekend waarom.
Die groep het toe na buite beweeg, waar hulle in ’n onderonsie met ander beland het. Van Zyl en Janse van Rensburg het mekaar glo te lyf gegaan. Van Zyl het probeer vlug, maar gestruikel en geval.
LEES OOK: Jong man dood ná aanranding in kroeg
“Dit is toe dat Janse van Rensburg hom glo geskop het. Van Zyl het opgestaan, op die sypaadjie gaan sit en later inmekaargesak,” het Botma gesê. Hy is op die toneel dood verklaar.
Ná die uitspraak het Van Zyl se stiefma, Amanda van Zyl, op Facebook gesê die regstelsel het nog ’n familielid in die steek gelaat, “wat ons met groot hartseer en geen geregtigheid gelaat het. Maar selfs al kan ’n saak met leuens gemanipuleer word en jy word onskuldig bevind, beteken dit nie jy is nie.”
Sy voeg by “’n kosbare siel is van ons weggeneem deur jou hande” en sê: “Geen ‘onskuldige’ uitspraak kan die waarheid verander nie … Mag God jou genadig wees.”