Central SA
Gewese Noord-Kaapse polisieman gevonnis vir dwelms; makker aangehou oor korrupsie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:57 Thu, 12 Dec 2024
’n Oudpolisiebeampte van Namakwaland, wat verdink is van dwelmhandel, word in April op drie aanklagte van korrupsie verhoor.
Michael September (44), Gherswin van Wyk (36) en Mothusi Molale (46) is Dinsdag (11/12) in die Springbokse streekhof tot altesaam 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis op aanklagte van onwettige dwelmhandel, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
Kelvin Brown (44), wat ook ’n verdagte was en in aanhouding is nadat hy op korrupsieaanklagte in hegtenis geneem is, se verhoor sal na verwagting op 2 April begin.
‘Uitgeloop op ’n groot operasie toe polisiebeamptes geïmpliseer is’
Molale en Brown was polisiebeamptes ten tyde van die misdade, maar albei het later bedank. Die beskuldigdes is in Maart verlede jaar in hegtenis geneem in die woonbuurt Bergsig tydens ’n ondersoek deur die Valke van Upington se ondersoekspan na ernstige georganiseerde misdaad.
“Die ondersoek na die onwettige bedrywighede van die beskuldigdes het reeds in Desember 2019 begin en het uitgeloop op ’n groot operasie toe polisiebeamptes geïmpliseer is,” sê Mnisi.
‘Al drie beskuldigdes sal vyf jaar tronkstraf uitdien’
Tydens die ondersoek het ondersoekbeamptes beslag gelê op dagga, tik en mandrax met ’n straatwaarde van R13 000.
Mnisi sê al drie beskuldigdes sal vyf jaar tronkstraf uitdien. September is skuldig bevind op drie aanklagte van dwelmhandel en tot agt jaar tronkstraf gevonnis, waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is.
Van Wyk is op twee aanklagte skuldig bevind en tot sewe jaar tronkstraf gevonnis, waarvan twee vir vyf jaar opgeskort is, en Molale is op vier aanklagte van dwelmhandel skuldig bevind en tot agt jaar tronkstraf gevonnis, met drie jaar wat vir vyf jaar opgeskort is.
OFM Nuus mvh