On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Familie pleit vir ingenieurs se vrylating voor Kersfees

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:42 Thu, 12 Dec 2024

Familie pleit vir ingenieurs se vrylating voor Kersfees | News Article
Peter Huxham en Frik Potgieter. Foto: 2Oceansvibe

Die Suid-Afrikaanse ingenieurs wat reeds byna twee jaar onregmatig in ’n Wes-Afrikaland gevange gehou word, se geliefdes pleit vir hul vrylating voor Kersfees.

Frik Potgieter, van George, en Peter Huxham, van Langebaan, word sedert 9 Februarie verlede in haglike omstandighede in ’n tronk in Ekwatoriaal-Guinee aangehou. Dit laat hul naasbestaandes vrees vir hul gesondheid.

Potgieter en Huxham het op die betrokke dag by hul hotel in die hoofstad, Malabo, aangemeld om die volgende oggend ’n vlug terug na Suid-Afrika te haal nadat hulle ’n werkrotasie van vyf weke voltooi het vir hul werkgewer, SBM Offshore. Albei werk al jare as ingenieurs vir die Nederlandse olie-en-gasmaatskappy Single Buoy Mooring. 

‘Polisie beweer dwelms in hul bagasie’

Die twee ingenieurs is op verskillende tye by die Anda China-hotel in Malabo in hegtenis geneem nadat die polisie aangevoer het hulle het op dwelms in hul bagasie afgekom.

OFM Nuus het vroeër berig ’n verhoor is gehou op 26 Junie verlede jaar. Drie dae later is albei mans skuldig bevind aan dwelmhandel. Hulle is tot twaalf jaar tronkstraf gevonnis en elkeen ’n boete van $5 miljoen opgelê, plus bykomende, gesamentlike boetes.

Frik en Sonja Potgieter. Foto: X

Pas twee maande tevore het ’n Suid-Afrikaanse hof ’n streng vonnis opgelê aan Teodoro Nguema Obiang, adjunkpresident van dié Wes-Afrikaland, waarvolgens beslag ook gelê sou word op sy seiljag in die Kaapse hawe.

Die beskuldigings teen hulle is “heeltemal ongegrond”, het Shaun Murphy, die Potgieters se woordvoerder vroeër aan OFM Nuus gesê, aangesien daar geen bewyse is dat die polisie ooit op die bagasie beslag gelê het nie.

“Potgieter en Huxham se familie beweer dat die mans onregmatig aangehou word en doen nou desperaat ’n beroep op hul terugkeer voor Kersfees.”

‘Liggaamlike en geestelike gesondheid gaan agteruit’

Volgens Murphy het Potgieter en Huxham se liggaamlike en geestelike gesondheid ernstig agteruitgegaan. Hulle sukkel albei met chroniese gesondheidsprobleme, het baie gewig verloor en ly aan geweldige geestelike spanning. “Dit het al so erg geword dat korrektiewe beamptes mediese hulp moes ontbied.”

In Junie vanjaar het hul geliefdes ’n nuwe veldtog begin om hulp te soek vir die twee mans se vrylating. Hulle het ’n parlementêre sitting op 21 September bygewoon om dringende ingryping te versoek.

Peter Huxham en Kathy McConnachie. Foto: X

Die Verenigde Nasies (VN) se werkgroep oor arbitrêre aanhouding het in Julie verlede jaar ’n formele verklaring uitgereik waarin Potgieter en Huxham se aanhouding as onwettig sowel as arbitrêr verklaar is. Die VN het gevra dat hulle onmiddellik vrygelaat word, maar min vordering is nog gemaak.

“Ons smeek die regering van Ekwatoriaal-Guinee om genade en deernis te betoon en Frik en Peter vry te laat. Die isolasie wat hulle verduur, sny hulle af van alle gesinskontak, wat geweldige lyding veroorsaak,” sê Francois Nigrini, woordvoerder van die Huxhams. “Dag-in en dag-uit word ons gesinne belas met bekommernis, hartseer en hulpeloosheid. Om hulle weer met hul familie te herenig sal onbeskryflik wees en sal help om die diep wonde te genees wat hierdie situasie veroorsaak het.”

Die Suid-Afrikaanse en Britse regering – Huxham is ook ’n Britse burger – het belowe dat hulle daartoe verbind bly om die twee mans se vrylating te verseker.

Frik Potgieter en Peter Huxham se geliefdes betoog buite die Pan Afrika-parlementsgebou in Midrand. Foto verskaf

Die parlement het in Oktober ’n eenparige mosie aanvaar wat Suid-Afrika se verbintenis tot menseregte en internasionale reg bevestig, asook steun aan die mans se geliefdes uitgespreek en ’n beroep op die Suid-Afrikaanse owerheid gedoen om dringend in te gryp en hul vrylating te bewerkstellig.

Murphy het benadruk dat Kersfees ’n tyd van hoop, vergifnis en hernuwing is, wanneer “ons in geloof bymekaarkom om die geboorte van Christus te herdenk, sal dit ’n seën wees om Frik en Peter terug te hê.

“Ons bid dat die Suid-Afrikaanse en Britse regering daadwerklik sal optree en met hul eweknieë in Ekwatoriaal-Guinee sal saamwerk om ons geliefdes se vryheid te verseker.”

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.