On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Projek laat Parys weer skitter

───   ELSABÉ DE JAGER 06:00 Wed, 11 Dec 2024

Projek laat Parys weer skitter | News Article
Ismari en Braam Cilliers in 2019. Sy is vroeër vanjaar oorlede. Foto: Facebook

“Wat kan ek doen as individu? Wat is klein en maklik genoeg om ’n verskil te maak?”

“Ek kan papiere en botteltjies optel, ek kan skoonmaak, as dit moet, kan ek gras sny …” was Braam Celliers (75), afgetrede arbeidsadviseur, se antwoord op dié vrae wat hy homself afgevra het toe hy in 2019, ná 25 jaar op Bothaville, na Parys verhuis het.

Hy was baie teleurgesteld oor die dorpsverval wat hom en sy vrou, Isamari, by hul aankoms begroet het. “Ek het spoedig besef ek kan ’n opknappingsprojek nie alleen aanpak nie, ek het die hulp van meer mense nodig.”


Vir Celliers was die redes vir die verval tweërlei. Nie net het hy nalatigheid en gebrek aan netheid onder die inwoners bespeur nie, maar het hy dit ook toegeskryf aan die onvermoë van die munisipaliteit om vullis te verwyder.

Ek het besef ek sal sélf die bal aan die rol moes sit as ek ’n verskil wou maak. Om net te praat sou niks help nie.”


Celliers se projek, Mooi Parys, het in November 2020 die lig gesien. Dit was ook ’n onderneming wat mettertyd aan heelwat werkloses werk begin verskaf het.

Hy het besluit om aanvanklik die hoofstraat, waar besoekers die eerste indrukke van die dorp kry, skoon te maak. ’n Groep karwagte is betrek deur hulle R10 te betaal vir elke sak rommel wat opgetel word.

“Daardie eerste middag sommer al is tien sakke volgemaak!”


Kort voor lank het hulle ook aanliggende strate begin opruim.

Gevra van waar sy inspirasie vir hierdie reuseprojek kom en hoe hy dit regkry om te volhard, antwoord Celliers: “Ek het eintlik ’n baie positiewe uitkyk op die lewe. Ek hoop, vertrou en wéét mens kan ’n ding in die lewe regkry.

Nie net behels hierdie projek opruimingswerk nie. Strate word ook opgeknap en slaggate word opgevul. Foto: Facebook

“Ek het skoolgegaan op Carletonville. Ons skool se leuse, ‘Ek kan as ek wil’, is nog my hele lewe lank by my. Parys is ’n mooi dorp.

“Ek gee om vir hierdie dorp. Die aangename mense en toeriste maak van Parys iets unieks.”

In 2022 het ’n groep van ongeveer 30 inwoners in gesprek getree. Sewe is aangestel om ’n “ampteliker proses te volg” en die Mooi Parys-projek “formeler te maak,” vertel Celliers.

Saam met Celliers word daar hard gewerk om aan Parys sy eertydse mooiheid terug te besorg. Foto: Facebook

’n Maatskappy sonder winsbejag is geregistreer. Geld sou op hierdie wyse ook makliker uit die gemeenskap ingesamel kon word. Tans is al sewe bestuurslede direkteure en Celliers steeds die projekbestuurder.

Hoewel verskeie ondernemings in die hoofstraat mildelik bydra tot die projek, bly finansiering maar, in uitdagend finansiële tye, ’n groot probleem. ’n Geldtekort kortwiek ook potensiële uitbreiding van die opknappingswerk na ander buurte naas die middedorp.

Die vriendelikheid van die Parysenaars het Braam Celliers dadelik opgeval toe hy in 2019 ’n nuwe inwoner was. Foto: Facebook.

Celliers merk op sedert die aanvang van die verfraaiingsprojek het ’n groot gesindheidsverandering onder die Parysenaars ontwikkel. Rommelstrooiing het afgeneem en ongeveer driekwart minder afvalsakke word deesdae weekliks uit die hoofstraat verwyder.

Sakeondernemings dra op verskillende manier by om dié projek te ondersteun.

“Ons het skenkings van grassnyers uit die gemeenskap ontvang, restaurante skenk kos vir die werkers, vullissakke word ook deurentyd aan ons voorsien,” laat hy dankbaar hoor.

Die dorp, aan die oewer van die Vaalrivier, bied vele geleenthede vir avontuurlustiges. Foto: Facebook

Vir Celliers sal die mooi herinneringe aan Isamari, met wie hy 51 jaar getroud was, maar wat vroeër vanjaar ná ’n lang siekte oorlede is, altyd as inspirasie dien vir dié onselfsugtige diens wat hy aan Parys lewer.

“Ek kon met die jare ook by haar leiding kry oor hoe mens binne jou eie huishouding netjies en georganiseerd kan leef. Sy was vir my ’n ware rigtingwyser. Ek het haar my ‘uptown girl’ genoem.”

OFM Nuus/Elsabé de Jager mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.