Central SA
Sasolburg-tiener reël MS-staptog ter ere van niggie se stryd─── HEIDRÈ MALGAS 15:03 Tue, 05 Nov 2024
’n Tiener van Sasolburg reël ’n staptog om mense bewus te maak van veelvuldige sklerose (MS) nadat dié chroniese toestand by haar niggie gediagnoseer is.
Leandri Harmse (15) werk nou saam met die organisasie MS Hoop aan die geleentheid op Saterdag 24 November by die Emerald Casino in Vanderbijlpark. Haar niggie Rochelle Killian (33) voer al sedert vroeg verlede jaar ’n stryd teen MS.
Veelvuldige sklerose is ’n onvoorspelbare en dikwels uitputtende siekte van die sentrale senuweestelsel wat die vloei van inligting binne die brein en tussen die brein en die liggaam, onderbreek. Simptome wissel van gevoelloosheid en tinteling tot blindheid en verlamming.
Leandri Harmse en Rozaan Steyn met MS Hoop reël ’n staptog om mense bewus te maak van veelvuldige sklerose (MS) nadat dié chroniese toestand by haar niggie gediagnoseer is. Foto verskaf
“Ek organiseer hierdie staptog om mense meer bewus te maak van veelvuldige sklerose en om aan mense te wys dat hulle nie alleen deur moeilike tye hoef te gaan nie,” sê Harmse.
Familie is vir Harmse baie belangrik, en sy sê haar familie staan bankvas agter haar in die reëlings vir die staptog. Killian word omring en gedra deur liefde van familie en vriende, en Harmse wil graag vir haar wys hoeveel liefde daar is.
“Rochelle ondersteun my besluit. Om mense te laat verstaan waardeur mense met die siekte gaan, is baie belangrik.”
Die verloop, erns en spesifieke simptome van MS by enige persoon kan nog nie voorspel word nie, die organisasie MS Suid-Afrika. Die siekte verskil grootliks van persoon tot persoon, en selfs met verloop van tyd by dieselfde persoon.
Een mens kan dalk abnormale moegheid, ervaar terwyl ’n ander ernstige visuele probleme ondervind, en een ander aandag- en geheueprobleme ontwikkel. Selfs ernstige simptome kan heeltemal verdwyn en die persoon kan verlore funksies herwin.
In die ergste gevalle kan mense egter gedeeltelike of volledige verlamming ervaar.
‘Daar’s geen registrasiefooie op die dag van die stap nie’
Rozaan Steyn, die stigter van MS Hoop, wat deelneem aan die stap vir Killian, sê daar’s geen registrasiefooie op die dag van die stap nie. Hulle verkoop wel hempies teen R50 elk, en MS Hoop se Potterjassie-varkie sal ook daar wees.
Die geld wat ingesamel word, is om “MS Warriors” sover moontlik by te staan. “Ons sal ook pakkies lekkernye en haarlintjies beskikbaar hê,” voeg sy by.
“Almal is welkom – MS Warriors met kieries, looprame, elektriese rolstoele, gewone rolstoele, en selfs mense wat hul honde wil saambring. Die honde moet net aan ’n leiband wees,” sê Steyn.
Leandri Harmse reël die staptog om mense meer bewus te maak van veelvuldige sklerose. Foto verskaf
“MS Hoop bestaan nou al twee jaar. Ek het dit gestig toe ek Tafelberg uitgeklim het om hoop aan my MS-maats te bring. Van daar af het ek meer uitdagings aangepak, en so het dit gegroei,” vertel Steyn.
“Ek is self ’n MS-lyer, en dit is ’n baie wrede siekte, maar ons bly positief, wat baie help, veral wanneer ons met ’n MS-terugslag in die hospitaal opgeneem word.
“Ek probeer altyd my MS-maats besoek wanneer hulle in die hospitaal is en om hulle by te staan. Wanneer ons uitdagings aanpak, sluit sommige van hulle by my aan en ons het altyd pret,” sê Steyn.
Die 3 km lange stap begin om 08:00.