On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Familie betoog vir vrylating van Suid-Afrikaanse mans in Wes-Afrika

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:57 Tue, 05 Nov 2024

Familie betoog vir vrylating van Suid-Afrikaanse mans in Wes-Afrika | News Article
Frik Potgieter en Peter Huxham. Foto: Facebook

Die families van twee Suid-Afrikaanse mans wat al byna twee jaar in Ekwatoriaal-Guinee aangehou word, hou Dinsdag (5/11) ’n betoging om hul vrylating te eis.

Frik Potgieter (54) en Peter Huxham (56) word sedert Februarie verlede jaar aangehou in dié landjie aan die weskus van Afrika, tussen Kameroen en Gaboen.

Hul gesinne sal buite die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum, waar die Afrika-energieweek gehou word, byeenkom om ’n beroep op Ekwatoriaal-Guinese staatsamptenare te doen wat die geleentheid bywoon, sê Shaun Murphy en Francois Nigrini, die Potgieter- en Huxham-familiewoordvoerders. Volgens die families ly albei mans se liggaamlike en geestelike welstand weens hul aanhouding.

OFM Nuus het voorheen berig Potgieter en Huxham, albei ingenieurs by die Nederlandse olie-en-gasmaatskappy STC Offshore, het op 9 Februarie verlede jaar aangekom by hul hotel in Malabo, die hoofstad van die enigste soewereine Afrikaland met Spaans as amptelike taal.


Die twee het pas ’n vyf-weke-werkrotasie voltooi en sou die volgende dag na Suid-Afrika terugkeer. Hulle is egter daardie nag in hegtenis geneem nadat kokaïen glo in hul bagasie gevind is, ’n aanklag wat die mans ten sterkste ontken.

’n Verhoor is vier maande later gehou en op 29 Junie is albei mans aan dwelmhandel skuldig bevind. Hulle is tot twaalf jaar tronkstraf gevonnis en elk met $5 miljoen (destyds sowat R93.8 miljoen) beboet, benewens ander, gesamentlike boetes.

“Ons is diep bekommerd oor Frik en Peter se gesondheid en emosionele welstand,” sê Kathy McConnachie, Huxham se lewensmaat. “Hulle het so baie verduur die afgelope maande onder moeilike omstandighede.

“Elke dag wat hulle in die tronk bly dra by tot hul lyding en tot die nood wat hul families ervaar, wat het geen sinvolle kontak met hulle het nie.

“Ons doen ’n beroep op die regering van Ekwatoriaal-Guinee om medelye te betoon en hulle genadig te wees. Hulle vrylating sal alles vir ons beteken; dit sal ’n stap wees om die diep wond te genees wat dit in ons lewe geskep het.”

Sonja Potgieter, Frik se vrou, doen ook ’n beroep op die owerheid en vra om die gesin se lang lyding tot ’n einde te help bring.

Peter en Kathy en Frik en Sonja. Foto: Facebook

“Ons mans, lewensmaats, vaders en oupas word nou al langer as 634 dae onregverdig in ’n vreemde land aangehou, ver van die huis af. Elke dag sonder hulle is vol bekommernis, hartseer en hulpeloosheid. Gun hulle asseblief hul vryheid en laat toe hulle om na ons terug te keer.”

Benewens die betogings doen die families ’n beroep op Ronald Lamola, Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, om in te gryp en ’n oplossing vir die voortgesette aanhouding te vind. Nigrini sê dit gaan nie oor wie verkwalik moet word nie. “Ons enigste wens is dat Frik en Peter veilig terugkeer huis toe, waar hulle hoort.”

‘Die Verenigde Nasies dring aan op hul onmiddellike vrylating’

Verlede maand het die parlement ’n mosie eenparig aanvaar wat die onmiddellike vrylating van Potgieter en Huxham eis. Volgens Murphy het die Verenigde Nasies se werkgroep oor arbitrêre aanhouding intussen verklaar die aanhouding van die twee mans is onwettig en dring aan op hul onmiddellike vrylating.

Die inhegtenisneming van die twee mans hou blykbaar verband met die beslaglegging op luukse Kaapse eiendom en ’n superjag van Teodoro Nguema Obiang Mangue, Ekwatoriaal-Guinee se adjunkpresident.

Wetstoepassers het op 7 Februarie 2023 beslag gelê op die bates nadat ’n plaaslike sakeman ’n regsgeding teen Mangue aanhangig gemaak het en hom van onwettige aanhouding en marteling beskuldig het.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.