International
Spanning loop hoog in mees onseker VSA-verkiesing in dekades─── MORNÉ VAN ROOYEN 09:10 Sun, 03 Nov 2024
Minstens 75 miljoen Amerikaanse kiesers het reeds gestem in wat beskou word as een van die belangrikste presidentsverkiesings in die Verenigde State se geskiedenis.
Die res sal Dinsdag (5/11) na die stembus gaan om te kies tussen adj.pres. Kamala Harris van die Demokratiese Party en die Republikeinse Party se kandidaat, oudpres. Donald Trump.
Vanweë Amerika se ingewikkelde stelsel waar die kieskollege bepaal wie die wenner is, ongeag wie die meeste stemme landwyd kry, sal ’n klein persentasie kiesers in sewe swaaistate – Michigan, Wisconsin, Pennsilvanië, Noord-Carolina, Georgia, Arizona en Nevada – die 47ste president aanwys.
Die 538 lede van die kieskollege word aangewys op grond van die 50 state se verteenwoordiging in die Amerikaanse kongres. Elke staat het twee senatore, ongeag sy bevolking, plus sy lede in die Huis van Verteenwoordigers, wat wissel van een in die geval van klein state soos Delaware, Montana en Wyoming, tot Kalifornië se 52, Texas met 38 en Florida se 28.
Ingewikkelde kiesstelsel
Omdat elke staat twee senatore kry ongeag sy bevolking, trek dié stelsel die uitslag skeef: Connecticut se vyf kieskollegelede verteenwoordig byvoorbeeld net sowat 600 000 kiesers elk, maar die swaaistaat Georgia se 14 sowat 1,1 miljoen elk. So kon Trump in 2016 president word met sowat 62,9 miljoen stemme (46,1%) vergeleke met Hillary Clinton se 65,8 miljoen (48,2%) omdat sy slegs 227 kieskollegelede gehad het en hy 304.
Omdat die Republikeine meer steun geniet in yler bevolkte state en dus meer lede in die kieskollege kry vir minder stemme, moet ’n Demokratiese kandidaat gemaklik voorloop om die verkiesing te wen. Volgens ’n gemiddelde van die vernaamste meningspeilings loop Harris voor met sowat 1,2%, moontlik nie genoeg om die pyp te rook nie.
Die adjunkpresident se steun kom veral van minderheidsgroepe, diegene met minstens een graad en vroue. Trump kry sterk steun onder ouer kiesers en op die platteland. Die belangrikste vraagstukke wat kiesers kan oorreed om vir die een of ander kandidaat te stem, is aborsieregte, ekonomiese herstel en immigrasie.
Opkoms deurslaggewend
Demokrate was teen Sondag (3/11) versigtig optimisties, berig Fox News. Lede van die binnekring is vol vertroue dat Harris genoeg kiesers sal kan opsweep met haar boodskap van inklusiwiteit en progressiewe waardes wat aanklank vind in die stede. Die opkoms sal bepaal wie wen omdat kiesers min of meer gelykop verdeel is tussen die twee kandidate.
Op sy beurt benut Trump sy gevestigde handelsmerk en lojale aanhang. Sy veldtog word gekenmerk deur ’n sterk klem op ekonomiese vraagstukke, nasionale veiligheid en immigrasiehervorming. Sy retoriek inspireer sy tradisionele steunbasis, terwyl hy hom as ’n kampvegter vir “gesinswaardes” teen “radikale linkses” posisioneer, berig The Guardian.
Uitslag dalk vertraag
Al is 5 November stemdag, beteken dit nie ons sal teen Dinsdagaand weet wie gewen het nie, berig ABC News. In elke opeenvolgende Amerikaanse verkiesing stem ál meer kiesers vooraf, wat langer duur om te tel as gewone stembriefies in stembusse.
In 2020 het die groot nuusnetwerke eers die Saterdag ná stemdag ’n wenner geprojekteer. Vanjaar kan dit selfs langer duur na gelang van geskille oor die uitslag in veral swaaistate.