On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Leon die skapie kom kuier in Blêrfontein

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:48 Fri, 01 Nov 2024

Leon die skapie kom kuier in Blêrfontein | News Article
Illustrasie: Facebook

’n Oulike skapie wat kinders van die Bybel help leer, kuier binnekort in Bloemfontein.

“Die verlore skapie” is die eerste verhaal in die Blêr-kinderstoriereeks, vertel Carlie Niehaus, bemarker en kommunikasiebeampte in die NG Kerk Vrystaat se sinodale kantoor.

Op Saterdag 16 November kan kinders Leon die skapie ontmoet wanneer hy optree in die Geloofsentrum Universitas in Bloemfontein. “Hierdie opwindende reeks bevat twaalf kort kinderverhale, almal geskryf en geïllustreer deur Martin Schwella, in samewerking met ds. Francois Lamprecht, die sameroeper van die NG Kerk Vrystaat se Netwerk JONK Vrystaat,” sê Niehaus.

“Dit beloof om baie gewild onder ons kinders te wees.”

Niehaus en haar kollega Celicia McLean het uitgereik na die illustreerder en kinderboekskrywer Martin Schwella van Schink, wat ewe geesdriftig was om iets spesiaal vir die jong gehoor van die Vrystaat te skep. Schwella sal tydens die bekendstellingsgeleentheid uit die boek voorlees.

Die boek is gemik op kinders van agt tot tien, maar Niehaus gee die versekering selfs jonger kinders sal die stories geniet wat in klankformaat op Spotify beskikbaar is.

‘Kinders kan tydens die bekendstelling saamsing’

“Benewens die storie het Schwella ’n loflied gekomponeer waarmee kinders tydens die bekendstelling kan saamsing, wat die pragtige boodskap van ‘Die verlore skapie’ vasvang.”

Niehaus sê die NG Kerk Vrystaat moedig ouers aan om hierdie betowerende reeks met hul kinders te deel. Dit bied gesinne ’n wonderlike geleentheid om ’n Bybelse ontdekkingsreis te begin. “Die boek sal ook in Engels vertaal word, en lesers kan binnekort uitsien na die volgende aflewering in die reeks.”

Kaartjies vir die bekendstelling en pretdag by die Geloofsentrum Universitas, wat van 10:00 tot 12:00 sal plaasvind, kos R50 vir volwassenes en R120 vir kinders. Bel 051 406 6700 met navrae of e-pos carlie@ngkvs.co.za.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.