On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Prof. Hans vir oulaas gegroet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:55 Fri, 01 Nov 2024

Prof. Hans vir oulaas gegroet | News Article
Prof. Hans du Plessis was ’n visioenêr wat talle jong skrywers geïnspireer en gelei het. Foto: Facebook

’n Gevierde Afrikaanse skrywer en akademikus word Saterdag (2/11) tydens ’n troosdiens gegroet.

Prof. Hans du Plessis (79) is Vrydagaand (22/10) kort voor middernag aan natuurlike oorsake oorlede. Hy en sy vrou, Magdaleen, het die laaste paar jaar in Potchefstroom gewoon.

Luidens ’n verklaring wat die Du Plessis-familie uitgereik het, sal ’n gedenkdiens om Du Plessis se lewe en nalatenskap te vier vroeg in 2025 gehou word.


Sy wens was dat die bekendstelling van sy laaste boek, Klein wonderwerkie, met die honderdjarige viering van Afrikaans se status as ampstaal saamval. Die gedenkdiens sal nie net sy bydraes tot die Afrikaanse letterkunde vier nie, “maar ook sy blywende impak op die taal herdenk”.

Du Plessis, wat in Januarie 80 sou geword het, laat ’n diepgaande nalatenskap in die wêreld van taal en letterkunde na en was ’n visioenêr wat talle jong skrywers geïnspireer en gelei het.

Die TV-nuusleser Daniëlla van Heerden vertel Du Plessis het ’n groot invloed op haar lewe gehad. “In 2004, tydens my eerste jaar by Pukke, het hy ’n gaslesing kom gee in die Skryfkuns 101-klas. Jare later het ek gebruik gemaak van die insigte wat hy daardie dag gedeel het, wat my sedertdien bygebly het.”


Van Heerden het 16 jaar later ’n jeugboek gepubliseer, en toe dit tyd word om te skryf, het sy oorweldig gevoel. “Maar prof. Hans se woorde van daardie dag het by my opgekom. Hy het gevra: “Hoe skryf ’n mens ’n boek? Jy gaan sit op jou bas en skryf.’ En dit is presies wat ek gedoen het.”

Du Plessis word oorleef deur sy vrou en hul vier seuns en skoondogters: Rudolph en Marié, Louis en Jolandi, Hansie en Marthlé, en Tjaard en Ilzé, asook nege kleinkinders.

Die diens sal Saterdag regstreeks op prof. Du Plessis se Facebook-blad uitgesaai word. Die troosdiens vind om 11:00 in die NG Kerk Potchefstroom-Grimbeekpark plaas.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.