On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse TikTok-‘kulkunstenaar’ jaar later steeds soek

───   HEIDRÈ MALGAS 14:47 Fri, 01 Nov 2024

Bloemfonteinse TikTok-‘kulkunstenaar’ jaar later steeds soek | News Article
Die vermiste Lesego Motaung (22). Foto verskaf

Die naasbestaandes van ’n Bloemfonteinse vrou wat ’n jaar gelede vermis geraak het, bly hoopvol dat sy opgespoor sal word.

Lesego Motaung (22) se familie het haar die laaste keer op 30 Oktober verlede jaar gesien toe sy haar huis in die voorstad Uitsig verlaat het op pad na haar werk by ’n kitskosrestaurant in Zastronstraat, Westdene.

Haar tante Ntebo Mogwase was die laaste persoon wat haar gesien het. Sy sê sy het Motaung om 07:10 by die huis gelos toe sy sy werk toe gegaan het.

Op die sosialemediaplatform Tik Tok, waar sy haar laaste video die dag voor haar verdwyning geplaas het, staan Motaung as “The magician” bekend. Sy het videogrepe geskep van haarself as ’n kulkunstenaar: nie ’n baie vaardige een nie, maar wel snaaks. Sy het meer as 120 000 volgelinge.


Tot dusver is daar geen inligting of leidrade oor Motaung se verdwyning nie.

Women For Change (WFC), ’n nieregeringsorganisasie wat hom beywer vir vroue- en kinderregte, het die eenjarige herdenking van Motaung se verdwyning op hul sosiale media gedeel.

“’n Mens kan nie net verdwyn nie. Iemand het hulle geneem. Iemand, êrens, weet iets … kinders en vroue word daagliks vermoor,” skryf die gebruiker Prudence Mosito. “Dit raak net erger. Elke dag is daar ’n saak of eerder sake van vermiste en vermoorde vroue en kinders.

‘Die ergste is dat die getal verkragters en moordenaars blykbaar toeneem’

“Ek is moeg om ‘RIV’ te sien en dit te sê. Ek is hartseer dat die oortreders steeds die strate deurkruis op soek na nog slagoffers. Mag die Here ons almal behoed.”

Hlongwane Nkateko sê die ergste is dat die getal verkragters en moordenaars blykbaar toeneem, want ál meer vroue en kinders word vermoor. Dit is afgryslik.


Volgens Jacqui Thomas, direkteur en medestigter van die Pink Ladies-organisasie, is die angs van ’n geliefde wat vermis raak, ’n diep en aanhoudende pyn. Wanneer dae weke word en dan maande en eindelik ’n jaar of langer, kan die onsekerheid en hartseer oorweldigend wees.

Thomas gee ’n paar stappe en advies vir gesinne wat na afsluiting soek en probeer om hierdie moeilike pad te navigeer:

  • Erken jou gevoelens: Aanvaar al die emosies wat jy ervaar. Treur op jou eie manier; daar is geen “regte” manier om te voel nie.
  • Soek ondersteuning: Steun op vriende, familie, of ondersteuningsgroepe. Deel jou ervarings en emosies; oorweeg professionele berading vir hanteringstrategieë.
  • Bly in verbinding met die polisie: Kommunikeer gereeld met speurders in die saak en hou opdaterings dop om gerusstelling te vind.
  • Skep ’n huldeblyk of gedenkteken: Eer jou geliefde met ’n gedenkplek, tuin, of aanlyn huldeblyk om herinneringe te deel en troos te vind.

‘Tree op as ’n kampvegter’

  • Neem deel aan rituele: Gebruik rituele soos ’n kers aansteek of gemeenskapsgeleenthede om beheer te vind te midde van die chaos.
  • Sorg vir jouself: Pas selfsorg toe – eet gesond, slaap genoeg, ontspan en geniet aktiwiteite om jou lewe op dreef te kry.
  • Tree op as ’n kampvegter vir bewustheid: Verander hartseer in voorspraak. Verhoog bewustheid oor jou geliefde se verdwyning om die soektog aan die gang te hou.
  • Verken aanvaarding: Aanvaar die werklikheid sonder om hoop prys te gee. Spits jou daarop toe om met die onsekerheid saam te leef, maar na jou eie welstand om te sien.

Enigeen met inligting wat Motaung kan help opspoor, kan kapt. Yaliwe Mokoena by 082 526 2653 bel. Inligting kan op die MySAPS-app gedeel word of bel Stop Misdaad by 0860 10111.

OFM Nuus/Heidre Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.