On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes gesoek ná jong Noordwes-plaasbestuurder se moord

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:15 Tue, 29 Oct 2024

Verdagtes gesoek ná jong Noordwes-plaasbestuurder se moord | News Article
Ian Boshoff is die naweek vermoor.

Niemand is nog in hegtenis geneem vir die moord op ’n jong plaasbestuurder van Noordwes nie.

Die polisie voer ’n uitgebreide soektog, sê kol. Adèle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, nadat Ian Boshoff (32) se liggaam Saterdag (26/10) gevind is. Hy het die Snymanshof-lodge, halfpad tussen Potchefstroom en Vereeniging, bestuur.

“’n Buurman van Boshoff het omstreeks 19:00 op sy liggaam afgekom in ’n plas bloed met veelvuldige skietwonde nadat hy Boshoff nie in die hande kon kry nie,” sê Myburgh. “Hy het op sy rug gelê met verskeie skietwonde en is op die toneel dood verklaar.”

Die aanvallers het met verskeie items gevlug, waaronder Boshoff se Land Cruiser, ’n pistool, ’n haelgeweer, selfone, ’n televisie en matrasse. Boshoff, oorspronklik van Bothaville, se voertuig is laat Sondag (27/10) verlate op die R502-pad naby Orkney aangetref.


Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om sers. Victoria Kumalo, die ondersoekbeampte, by 082 373 7291 of die stasiebevelvoerder, ao. Johannes Lesobe, by 082 416 2348 te bel.

Die dag vantevore is ’n ma en dogter op hul kleinhoewe in Eikenhof suid van Johannesburg ontvoer en later vermoor. Die liggame van Hester Flemming (52) en Cecilia Johanna Flemming (82) is Maandag in ’n verlate mynskag gevind, nie ver van waar hulle ontvoer is nie, sê die ondersoeker Antoinette Coetser.

Volgens Coetzer het die aanval tussen 22:00 en Saterdag om 04:00 plaasgevind. “Die aanvallers het toegang tot die kleinhoewe verkry deur ’n heining deur te sny. Hulle het toe die veiligheidshek by die huis oopgedwing en toegang tot die huis gekry.”

Die verdagtes het met twee voertuie – ’n dubbelkajuit-Isuzu-bakkie en ’n RAV4, twee vierwielmotorfietse, ’n veldmotorfiets, verskeie vrieskaste en ’n televisie weggekom.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.