Central SA
Bevryding van onwettige Stilfontein-mynwerkers onderweg─── 13:42 Mon, 13 Jan 2025
Die Departement van Minerale Bronne en Energie het vandag (13/1) met pogings begin om die sowat 550 oorblywende, onwettige mynwerkers wat ondergronds in die Buffelsfontein-goudmyn buite Stilfontein verkeer, uit te haal.
Na wat verneem word, is daar ook 109 lyke.
Die ingryping kom nadat die hooggeregshof Vrydag (10/1) beslis het dat die regering moet help om onwettige mynwerkers in Stilfontein te red, ná ’n dringende pleidooi deur die suster van een van die mynwerkers gelewer is.
Sedert November verlede jaar het meer as ’n duisend onwettige mynwerkers na die oppervlak gekom nadat hul kos- en watervoorraad opgeraak het.
Hof beveel staat om met reddingswerk voort te gaan
Die hof het die staat beveel om ’n diensvlakooreenkoms met Mines Rescue Services (MRS), ’n privaatsektororganisasie wat vrywilligers vir reddingswerk oplei, aan te gaan en om voort te gaan met die ononderbroke aflewering van kos, water en mediese hulp aan vasgekeerde mynwerkers.
Verskeie belanghebbendes, insluitend die polisie, gemeenskapswerkers en menseregteregslui, het die afgelope naweek by die myn vergader.
Volgens TimesLIVE was MRS ook op die terrein om aan gemeenskapsleiers te verduidelik wat hul plan van aksie vir die redding is en om die terrein voor te berei om te verseker dat vragmotors en reddingsmasjinerie dit kan bereik.
Handgeskrewe brief van ’n onwettige mynwerker. Foto: Facebook
Die reddingsmasjinerie behels ’n hyser wat ’n hok in die mynskag kan laat sak. Die hok kan ses of sewe mense hou, afhangende van die grootte en gewig van die mynwerkers.
Die lyke van oorlede mynwerkers sal eerste uitgehaal word, terwyl kosvoorraad, water en medikasie met tussenposes afgestuur word. Handgeskrewe briewe, wat mynwerkers verlede week na die oppervlak gestuur het, beweer daar is 109 lyke ondergronds.
‘Uurlikse sterftes’
Die briewe skets ’n grimmige prentjie van die situasie ondergronds, met berigte van mense wat “uurliks sterf”. Die mynwerkers beskryf hoe hulle in konstante vrees leef en vra dringend bystand.
Mining Affected Communities United in Action (Macua), ’n organisasie wat hom beywer vir die regte van mynwerkers, het aan die SAUK gesê hulle hou die polisie verantwoordelik vir die dood van die 109 mynwerkers nadat ’n katrolstelsel waarmee kosvoorraad na ondergrondse mynwerkers gestuur is, verlede maand gebreek is.
Donderdag (9/1) het vrywilligers ’n nuwe katrolstelsel gebruik om vir die eerste keer sedert 24 Desember kos, water en noodsaaklike voorrade af te stuur.
Briewe van bemoediging aan mynwerkers
Na wat berig word, sal die reddingsoperasie van sesuur soggens tot sesuur saans plaasvind, hoewel die reddingspan hul bereidwilligheid uitgespreek het om baie later te werk indien moontlik.
Intussen het gemeenskapslede van Stilfontein ook handgeskrewe briewe na die mynwerkers gestuur met boodskappe van hoop, gebede en bemoediging.
Handgeskrewe brief van ’n inwoner. Foto: Facebook
Volgens Magnificent Mndebele, woordvoerder van Macua, is die mynwerkers vasgekeer en nie onwillig om uit te kom, soos wat op sosiale media beweer word nie.
“Skag 11, wat twee kilometer ondergronds is, het geen lewensvatbare uitgang nie en Skag 10, wat slegs toeganklik is met ’n geroeste struktuur, maak ontsnapping sonder eksterne bystand onmoontlik.”