On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Man van Kimberley skeer welige baard vir liefdadigheid

───   KAREN VAN DER BERG 09:48 Mon, 13 Jan 2025

Man van Kimberley skeer welige baard vir liefdadigheid | News Article
Gideon de Jager glimlag breed nadat sy hare en baard afgeskeer is. Foto verskaf

Dit is soveel koeler was byna die eerste gedagte toe sy baard ná ’n jaar se groei afgeskeer is.

So vertel Gideon de Jager (49), ’n elektrisiën van Kimberley wat sy baard Saterdagaand (11/1) ten aanskoue van ’n groot skare laat afskeer het. Sy hare het ook sommer in die slag gebly.

Dit volg nadat Gideon en sy vriend Johan du Plessis op 11 Januarie verlede jaar ’n weddenskap aangegaan het om hul baard vir ’n jaar lank te groei. Dit het uitgekring tot ’n groot fondsinsameling vir die Sally Aucamp-tehuis vir volwassenes met liggaamlike gestremdhede in Kimberley.

Gideon de Jager voor sy baard geskeer is. Foto verskaf

“Johan moes toe ongelukkig verlede jaar iewers sy baard skeer vir ’n geleentheid wat hy moes bywoon waar ’n baard nie sou werk nie.”

Gideon sê hy het besluit om sy baard aan te hou groei. Dit was ’n baie goeie ervaring hoewel die snikhete temperatuur in Kimberley hom soms onder gekry het. Dit is nou soveel koeler daarsonder. Hy het ’n bedrag van R43 000 vir die tehuis ingesamel en dit is reeds aan hulle oorbetaal.


Hy is reeds besig om aan die volgende idee vir ’n fondsinsameling te dink omdat hy graag iets vir ander mense doen. Hoewel hy nog nie ’n duidelike plan het nie is enige idees welkom. 

Gideon sê Johan het ’n gestremde kind en hulle het besluit om dit as ’n fondsinsameling vir dié tehuis te doen. “Ek dink hulle doen goeie werk al kry hulle geen geld iewers nie en alles self moet insamel.”

Gideon de Jager wil almal bedank vir hul ondersteuning. Foto verskaf

Mense kon self  besluit met hoeveel hulle hom vir die baardgroei wou borg. Gideon sê die geleentheid Saterdag is by die Duits-Wes-kuierplek gedoen.

“Ek kan steeds nie glo hoe Kimberley se mense uit hulle pad gegaan het om gestremde persone te help nie. Dit was wonderlik om dit te sien en te beleef.”


Hulle hoop dit kan vir die tehuis effense verligting bring. Hy wil almal wat betrokke was om die projek ’n sukses te maak bedank vir hul ondersteuning.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.