On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vanderbijlpark se baba Hanru weer geopereer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:37 Thu, 24 Oct 2024

Vanderbijlpark se baba Hanru weer geopereer | News Article
Hanru Smit. Foto verskaf

’n Gesin van Vanderbijlpark het reeds ’n aansienlike bedrag ingesamel vir hul baba se lewensbelangrike operasie, maar hulle het selfs meer hulp nodig.

Die vyf maande oue Hanru Smit moet op 4 November ’n operasie ondergaan nadat ’n waterbreuk by hom gediagnoseer is.

Volgens die Cleveland Clinic ly ongeveer 10% van pasgeborenes aan dié toestand.

Hanru in die NISE. Foto verskaf

Nadat Verna Laurens (24) op 39 weke ’n noodkeiser gehad het weens komplikasies en haar water wat nie wou breek nie, is Hanru met ’n pers gesig gebore en is hy dadelik na die neonatale intensiewe sorgeenheid (NISE) oorgeplaas.

Hy het vier dae in die NISE deurgebring en 100% suurstof en antibiotika deur sy naelstring ontvang.

Laurens vertel dit was hartverskeurend toe sy haar pasgebore baba net een keer kon sien, die dag ná sy geboorte, “want hulle is baie streng in die NISE weens die risiko van kieme vir kwesbare babas.” Ná vier dae was hy gesond genoeg om huis toe te gaan.

Hanru het 'n waterbreuk. Foto verskaf

Maar nie lank daarna nie het Janru Smit (26), Hanru se pa, opgemerk alles is nie pluis met Hanru se geslagsdele nie. Daar was swelling voor en agter wat bly toeneem het.

“Op drie maande het ons hom na ’n uroloog geneem, wat ’n waterbreuk by Hanru gediagnoseer het,” sê Janru. “Hy het aanhou om vloeistof in sy liggaam en geslagsdele op te bou, wat die uroloog moes dreineer, en hy het ook ’n breuk, wat die swelling veroorsaak.”

Volgens Verna het die swelling so erg geword dat Hanru reeds ’n grootte-vier-doek dra.

Hanru moet op 4 November 'n operasie ondergaan. Foto verskaf

Die voorgenome operasie plaas aansienlike finansiële druk op sy ouers omdat hulle nie tot ’n mediese fonds behoort nie en die prosedure, wat in ’n privaat hospitaal in Vereeniging beplan word, meer as R44 000 kos.

“Ons is dankbaar dat die uroloog en die narkotiseur reeds betaal is. Ons kort egter nog R29 000 vir die hospitaaluitgawes,” sê Verna. “Dit is ’n lang proses, en herstel vir so ’n klein liggaam kan baie pynlik wees.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.