On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Welkom-prokureur binnekort gevonnis vir verkragting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:30 Thu, 24 Oct 2024

Welkom-prokureur binnekort gevonnis vir verkragting | News Article
Foto: iStock

’n Prokureur van Welkom wat reeds skuld beken het op aanklagte van verkragting, sal na verwagting later vanjaar in die Bloemfonteinse hooggeregshof verskyn.

Die datum vir die hervatting van sy vonnisverrigtinge moet nog vasgestel word nadat die saak meermale uitgestel is.

Die beskuldigde, wat regtens nie geïdentifiseer mag word nie, het glo erken hy het sy twee stiefdogters en hul niggie verkrag, sê kapt. Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

‘Sy wandade het aan die lig gekom ná ’n woordewisseling’

Die saak duur al van Mei 2021 af ná sy skulderkenning as deel van ’n pleitooreenkoms. Hy het skuld beken op 16 aanklagte, waaronder verkragting en seksuele aanranding, wat verband hou met die misbruik van die drie meisies tussen 2010 en 2015 op Virginia en in Welkom.

“Die prokureur het ook op vier aanklagte van aanranding erken dat hy twee van sy stiefdogters se vriende op die mond gesoen het en dat hy homself teen een van hulle gedruk het,” sê Thakeng.

Sy wandade het in Januarie 2017 aan die lig gekom ná ’n woordewisseling met sy vrou en stiefdogter. Hoewel hy eers skuld ontken het, het hy gevra hy wou ’n pleitooreenkoms aangaan nadat die eerste staatsgetuie begin getuig het.

‘Sy versoek is geweier omdat hy reeds gevonnis is’

Van toe af, vertel Thakeng, het die prokureur probeer om die verrigtinge te vertraag. “’n Vonnisopleggingsdatum is oorspronklik vir 14 September 2021 vasgestel, maar op dié dag het die prokureur se regspan hulle weens etiese redes onttrek,” sê Thankeng.

Daarna het hy glo gevra hy wil onskuldig pleit, maar sy versoek is geweier omdat hy reeds gevonnis is. Sy borgtog is teruggetrek, maar hy is later vrygelaat nadat hy teen dié besluit geappelleer het.

Die beskuldigde het toe ’n nuwe aansoek ingedien vir die onttrekking van die regter, Soma Naidoo, onder meer omdat sy ’n teddiebeer van die Suid-Afrikaanse tak van die Internasionale Vereniging van Vroueregters in haar kantoor gehad het en “’n aktivis teen geslagsgeweld” is.

‘Sy aansoek om verlof tot appèl is op 9 September van die hand gewys’

Nadat dié aansoek ook van die hand gewys is, het hy hom tot die appèlhof gewend om te versoek dat sy verhoor opnuut begin. Die aansoek was ook onsuksesvol.

Thakeng sê die prokureur het vroeër vanjaar die Konstitusionele Hof genader, maar sy aansoek om verlof tot appèl is op 9 September van die hand gewys toe die hof beslis het sy aansoek het geen redelike kans op sukses nie.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.