On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Potchefstromers eers weer in Januarie hof toe oor veghondaanval

───   ZENANDE MPAME 15:29 Tue, 22 Oct 2024

Potchefstromers eers weer in Januarie hof toe oor veghondaanval | News Article
Die hof wag op reaksie van die DOV. Foto: Zenande Mpame

Hofverrigtinge teen die Potchefstroomse egpaar wie se drie Amerikaanse veghonde hul destydse huishulp aangeval het, hervat eers op 20 Januarie.

Die hof wag op reaksie van die Direkteur van Openbare Vervolging, nadat Marno en Chandré Mostert ’n aansoek ingedien het om die saak van die hofrol te laat skrap.

Geldelike druk weens ’n gesloer met die saak word as rede vir die aansoek genoem. 

Derik Schutte, hul prokureur, is bekommerd oor die uitgerekte aard van die proses. “Ons vra dat die saak van die rol geskrap word, want die uitstellery benadeel ons kliënte. Dit skend die klaer én die Mosterts se grondwetlike reg op ’n verhoor sonder onnodige vertraging.”

Chandré (middel) en Marno (regs) Mostert wou gehad het die aanklagte teen hulle moes laat vaar word. Foto: Potchefstroom Herald/Wouter Pienaar

Die slagoffer, Dipuo Kokolosi (48), het in Januarie vanjaar rekonstruktiewe neuschirurgie ondergaan. Haar neusbesering is een van vele wat sy opgedoen het tydens die aanval twee jaar vantevore.

Die honde het haar glo aangeval terwyl sy skottelgoed in die Mosterts se huis gewas het. Die honde het na bewering haar neus, lippe en ore afgeruk, asook dele van haar bene en hande.

’n Buurman, wat Kokolosi se gille gehoor het, het ’n waarskuwingskoot gevuur om die honde af te skrik. Toe hulle hom bestorm, het hy die honde geskiet.

Kragtens die Wysigingswet op Diereaangeleenthede maak enigiemand wie se nalatigheid veroorsaak dat ’n dier iemand beseer, hom of haar aan ’n misdryf skuldig.

Die oortreder kan ’n boete of tronkstraf van tot twee jaar opgelê word. Die hof kan die veroordeelde ook verbied om sekere diere vir ’n bepaalde tyd te besit of te versorg.

Kommer neem toe oor aanvalle deur Amerikaanse veghonde in Suid-Afrika. In ’n petisie wat in 2022 deur die Sizwe Kupelo-stigting begin is, word ’n onmiddellike verbod op die besit van Amerikaanse veghonde as troeteldiere geëis. Altesaam 139 914 mense het die petisie onderteken.

In die versoekskrif word aangevoer so ’n verbod kan nog aanvalle en onnodige sterftes voorkom.

OFM Nuus/Zenande Mpame mc/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.