On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Gesin van Kimberley kry berading ná nagmerrie-inbraak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:22 Tue, 22 Oct 2024

Gesin van Kimberley kry berading ná nagmerrie-inbraak | News Article
Foto: iStock

’n Noord-Kaapse ouerpaar kry traumabehandeling nadat vyf inbrekers hulle met ’n vuurwapen aangehou het.

Kimberley se polisie ondersoek ’n saak van huisbraak ná die voorval waarin die man, vrou en hul baba Sondag (20/10) in die vroeë oggendure in die gegoede woonbuurt Monumenthoogte aangehou en beroof is, sê ao. Timothy Sam, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Die egpaar en hul eenjarige is omstreeks 03:00 in die Knights Castle-kompleks wakker gemaak, vasgebind en beroof terwyl minstens een vuurwapen op hulle gerig is. Die polisie se voorlopige ondersoek dui daarop dat vyf mans betrokke was by die inbraak.

Die inbrekers het gevlug met ’n onbekende bedrag kontant en waardevolle items, voeg Sam by. Die polisie verleen bystand aan die gesin deur hul slagofferbemagtigingsprogram.

Enigiemand met inligting wat kan help in die ondersoek, kan speursers. Desmond Markgraaf te bel by 078 047 4437 of Stop Misdaad by 08600 10111. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Die ondersoek duur voort.

Wat is die Slagofferbemagtigingsprogram?

Dié program is bedoel vir enigiemand wat skade of verlies gely het – hetsy individueel of gesamentlik – weens misdaad, natuurrampe, ongelukke of ongunstige sosio-ekonomiese toestande.

Tydens die program kry slagoffers die geleentheid om van hul ervarings te vertel en hoe die misdaad hul lewe beïnvloed.

Dit stel polisiebeamptes in staat om elke slagoffer se unieke situasie beter te verstaan en hulle na toepaslike plaaslike diensverskaffers te verwys vir traumaberading en ander slagoffervriendelike hulpbronne.

Die program omvat vier aspekte: emosionele ondersteuning om slagoffers te help om hul gevoelens te hanteer; praktiese hulp; noodsaaklike inligting om slagoffers in hul herstel te bemagtig; en verwysings na professionele ondersteuningsdienste.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.