On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Jong kankerlyer van Bloemfontein dra boodskap van hoop uit

───   ELSABÉ DE JAGER 12:47 Mon, 21 Oct 2024

Jong kankerlyer van Bloemfontein dra boodskap van hoop uit | News Article
Karen Kemp het graag die span werkers van Angel Hearts geneem om Shanice in die hospitaal te gaan besoek. Foto verskaf

“My kind het deurentyd bly sing. Sy was so vroeg in haar kinderlewe reeds selfstandig. Sy was die een wat my getroos het, wat my bly verseker het dat die Here haar gesond sal maak.”

Chantelle May se stem breek toe sy oor haar dogter, Shanice (18), en dié se pad met akute limfoblastiese leukemie gesels. Op nege is dié soort kinderkanker, wat begin in die beenmurg en dan versprei na die bloed en organe soos die milt en lewer, by die dapper matrikulant van die Hoërskool Dr. Viljoen in Bloemfontein gediagnoseer.


“Drie jaar lank was my kind meer in die hospitaal as tuis,” vertel Chantelle. Vir dié enkelma van drie was dit ’n swaar tyd. Pas geskei, en as die enigste broodwinner, moes sy bly werk.

Uit desperaatheid plaas sy toe ’n boodskap op sosiale media waarin sy pleit om hulp van enige weldoener om haar kind weekliks na die Universitas-hospitaal in die stad te neem vir behandeling.

Haar suster, Goerg-leen (links) en haar ma, Chantelle (regs), het die opgewondenheid van Shanice se mooi dag gedeel. Foto verskaf

Dit is toe wat haar pad kruis met Karen Kemp, stigter van Angel Hearts, met ’n werkswinkel vir gestremdes. Kemp was bereid om Shanice weekliks van Heidedal na die hospitaal te neem.

“Karen is ’n engel in ons lewe,” sê Chantelle. “Sy het soveel meer gedoen as om my kind bloot vir behandeling te neem. Sy was daar om Shanice te vertroos en smiddae by haar te hou en kos te gee totdat ek tuiskom.”

Al was sy nog so jonk was sy ten volle bewus van al die struikelblokke en uitdagings in daardie tyd, vertel Shanice. Terwyl sy op haar siekste was, is gordelroos en kinkhoes boonop by haar gediagnoseer.


Die May-familie sal prof. David Stone se sorg en empatie nooit vergeet nie. Foto verskaf

Haar ma moes toe hulle huis in Heidedal prysgee en met haar, wat elke dan en wan in die hospitaal moes wees, en haar twee sibbes in ’n skuiling gaan woon. “Maar steeds het sy vir ons bly sorg. Sy was en is steeds die rots van ons gesin.”


Chantelle sê hul dankbaarheid teenoor die engele van Bloemfontein ken geen perke nie. Prof. David Stone – bekend vir die pad wat hy geloop het saam met menige kind wat aan kanker ly – sal altyd vir hulle ’n ware “hero” wees. “Hy het ons bygestaan op ’n wonderlike manier. By hom kon klein Shanice meesal net kind wees.”

Saterdagaand 1 Oktober kon die vreugdevure hoog brand by die mooi huis waarin die May-gesin deesdae woon. Van vroegdag af is getooi en voorberei vir ’n aand waarna Shanice haar hele lewe lank, deur siekte en ook beter tye, uitgesien het: haar matriekafskeid.

Vir Shanice en Ethan was die matriekafskeid ’n vreugdeviering van die lewe en, ten spyte van baie uitdagings, ’n suksesvolle skoolloopbaan. Foto verskaf

“Dit was genade, alles net genade,” laat haar ma hoor. Teen laatmiddag het haar dogter, asemrowend mooi in ’n ligblou skepping, aan die arm van haar neef, Ethan Diano Plaatjies, aangetree vir die groot geleentheid.

Shanice besef ’n lang pad na volle genesing lê nog voor. Hoewel haar kanker in remissie is, moet sy gereeld vir opvolgbesoeke gaan. Danksy haar sonnige geaardheid, goeie humorsin en bo alles haar onwrikbare geloof reik sy met haar hele hart uit na ’n blink toekoms.

Sy beplan om nie net ’n graad in besigheidsbestuur te behaal nie, maar ook in argitektuur. “Ek sal graag betrokke wil raak by die beplanning en oprigting van skuilings waar behoeftiges ’n waardige lewe kan lei.”

OFM Nuus/Elsabé de Jager cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.