On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

AfriForum se takke rol hul moue op in Upington en Vryburg

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:34 Sat, 19 Oct 2024

AfriForum se takke rol hul moue op in Upington en Vryburg | News Article
Die bome in die park in Upington is gesnoei. Foto verskaf

Oud en jonk kan weer 'n park in Upington geniet danksy ’n burgerlike organisasie wat ingespring het om dit reg te ruk.

Kragbokse, klimrame, swaaie en ’n glybaan by die Sentrum kafee-park – wat jare lank verwaarloos is – is afgeskuur en geverf, sê Werner Strauss, AfriForum se Kalahari-distrikskoördineerder.

AfriForum se Upington-tak het die park herstel sodat almal dit weer kan geniet.

Strauss sê die kragbokse was vol lelike graffiti, maar lyk nou so goed soos nuut nadat dit groen geverf is. Die bome is ook gesnoei en die rommel opgetel.

Verder is 25 m van die houtheining om die park vervang, terwyl ander dele van die heining herstel en weer vasgemaak is. “Die instandhouding van die heining is van kardinale belang omdat sommige gemeenskapslede met hul voertuie die park inry om alkohol uit hul motor se kattebak te drink wat verbode is.”  

Die kragbokse in die park was in ’n haglike toestand. Foto verskaf

Hy sê die park het ook ’n brandpunt geword vir misdadige aktiwiteite soos dwelmgebruik terwyl dit oorspronklik bedoel was vir kinders om daar te speel. 

Intussen het AfriForum se Vryburg-tak ’n restourasieprojek in Springbokstraat aangepak as deel van die organisasie se #OnsDorpOnsVeiligheid-inisiatief.

Die tak het meer as 20 slaggate met 500 kg teer herstel. Hulle het ook die padmerke by die vierrigtingstop en op ’n spoedhobbel voor die CVO-skool oorgeverf, sê JP Nel, AfriForum se Stellaland-distrikskoördineerder.

AfriForum het die slaggate herstel. Foto verskaf

“Hierdie projek wat in samewerking met Herotel aangepak is, het R10 000 gekos.” Die tak het ook 1,2 ha gras rondom die dorp gesny om sigbaarheid en veiligheid te verbeter.

Hy sê Springbokstraat is geprioritiseer omdat dit in ’n uiters slegte toestand was. “Die oorverf van die spoedhobbel naby die CVO-skool was ook noodsaaklik om te verseker motoriste ry stadiger. Die tak was vanjaar baie aktief en sal voortgaan om projekte aan te pak om Vryburg ’n beter en veiliger plek vir almal te maak.” Daar word ook beplan om ander spoedwalle en strate in die dorp op te knap.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.