On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Twee verdagtes in hof ná Kuruman-boer se moord

───   HEIDRÈ MALGAS 09:58 Sun, 13 Oct 2024

Twee verdagtes in hof ná Kuruman-boer se moord | News Article
Hendrik Venter is einde September dood aangetref by ’n buurplaas se hek. Foto: Facebook

Die twee verdagtes wat verdink word van die moord op ’n bejaarde boer van die Kalahari moet weer Maandag (21/10) in Kuruman se landdroshof verskyn.

“Die saak is uitgestel sodat regsadviseurs redes kan verskaf vir hul appèlproses rakende die hof se beslissing om die media toe te laat om foto’s van die beskuldigdes te neem,” het Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder gesê.

Intussen bly Orabile Vincent Motsewakgosi (24) en Kabelo Tata (26) in aanhouding voor hul volgende hofverskyning.

 

Hendrik Venter is Vrydag (27/9) dood aangetref by ’n buurplaas se hek. Die 81-jarige het sy plaas tussen Kuruman en Hotazel om 08:30 verlaat om sy beeste te versorg. Sy liggaam is omstreeks 09:45 langs sy voertuig gevind.

“Die verdagtes is Saterdag (28/9) omstreeks 10:30 op Hotazel aangekeer,” sê Ehlers. 

Die Noord-Kaapse Provinsiale Kommissaris, lt.genl. Koliswa Otola, het die beamptes geloof vir hul vinnige optrede en deursettingsvermoë wat tot die inhegtenisnemings gelei het.

OFM Nuus het berig die moord op Venter het talle in opstand gebring wat teen plaasmoorde en veediefstal veg. “Ons het aan die parlementêre komitees oor polisie, asook landbou, en die Suid-Afrikaanse president van Suid-Afrika, geskryf oor veediefstal, die veiligheid van ons boere en plaaswerkers,” sê Petrus Sitho, aktivis teen plaasmoorde en veediefstal.

Sitho sê hulle wil nie beskerming hê nadat iets gebeur het nie. “Hoewel die oortreders aangekeer is, kan ons nie wag totdat boere vermoor word voordat daar opgetree word nie. Ons het nou aksie nodig. Ons benodig beskerming en ingryping,” sê Sitho.

Die regering het iemand nodig om hulle wakker te skud en hy eis dat hulle optree. Die DA beplan om aan die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie te skryf om ’n dringende hersiening van die polisie se reservisbeleid aan te vra en die vinnige stigting van voldoende landelike veiligheidseenhede landwyd te versoek waar daar ’n tekort is.

OFM Nuus/Heidre Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.