On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Alize se ontvoerders mag nog nie bekend gemaak word nie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:49 Fri, 11 Oct 2024

Alize se ontvoerders mag nog nie bekend gemaak word nie | News Article
Die foto van Alize van der Merwe wat aan die polisie gestuur is. Foto: André Snyman.

Die drie mans wat na bewering ’n vrou van Kaapstad in die Oos-Kaap ontvoer het, sal minstens nog vyf weke in aanhouding bly.

Die drie verdagtes kan nog nie geïdentifiseer word, aangesien die uitkenningsparade nog nie afgehandel is nie, sê ao. Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder.

Dié besluit is deur die landdros geneem tydens die mans se eerste verskyning op 2 Oktober. Volgens Mhlakuvana het die mans Woensdag (9/10) weer vlugtig in die landdroshof verskyn en verkies om hul borgtogaansoeke te laat vaar.

OFM Nuus het vroeër berig Alize van der Merwe, (39) ’n finansiële adviseur van Kaapstad, is op 20 September vanaf die lughawe in Oos-Londen ontvoer terwyl sy op pad was na die Umngazi-vakansieoord, 20 km suid van Port St. Johns.

Alize van der Merwe. Foto: Facebook

’n Selfoonnommer op ’n foto was deurslaggewend in Van der Merwe se vrylating. Haar ontvoerders het die foto aan die owerhede gestuur as ’n bewys dat sy leef, sê André Snyman, private ondersoeker van eblockwatch.

“Die polisie het die eienaar van dié nommer opgespoor, waarna hy per ongeluk belangrike inligting bekend gemaak het wat uiteindelik tot Van der Merwe se vrylating gelei het,” sê Snyman.

‘’n Lospryseis is kort ná Van der Merwe se ontvoering gemaak’

Die reddingsoperasie het geëskaleer toe lede van die polisie se taktiese reaksiespan (TRT) op intelligensie opgetree het en ’n klopjag op ’n huis in Keiskammahoek uitgevoer het, wat tot ’n gewelddadige skietgeveg gelei het.

Vier mense is doodgeskiet, en ’n vyfde persoon is tydens die konfrontasie beseer.

Die Valke het egter bevestig dat ’n lospryseis kort ná Van der Merwe se ontvoering gemaak is, met die ontvoerders wat tussen R3 miljoen en R4 miljoen vir haar vrylating soek. Luxolo Tyali, NVG streekwoordvoerder, het ná haar vrylating bevestig geen losprys is betaal nie.

Van der Merwe is op 26 September, saam met nog ’n vrou, naby die Sulenkama-polisiekantoor afgelaai.

Tian Xiaomei is (34) glo op 17 September tussen Barkly-Oos en Khowa (Elliot) gekaap en ontvoer. Mhlakuvana het voorheen aan OFM Nuus gesê dat die polisie aanvanklik nie bewus was van Xiaomei se ontvoering nie.

Volgens Snyman is Van der Merwe steeds baie getraumatiseerd na die voorval en is tans nie bereid om met die media te praat nie. “Tydens haar aanhouding by die huis saam met die Chinese vrou was die situasie besonder traumaties omdat die vrou nie in Engels kon kommunikeer nie.

‘Hulle het daarin geslaag om emosionele ondersteuning aan mekaar te bied’

“Sy was so bang om vergiftig te word dat sy opgehou eet het. Ná Van der Merwe se aankoms, het die vrou weer begin eet. Hulle het egter net basiese kos geëet en daarin geslaag om emosionele ondersteuning aan mekaar te bied totdat hulle vrygelaat is.”

Snyman sê in hierdie stadium kan hy nie meer inligting deel nie, hoewel daar nog baie verwikkelinge is.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.