On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse reeksverkragter swaar gestraf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:35 Fri, 11 Oct 2024

Vrystaatse reeksverkragter swaar gestraf | News Article
Die skuldige se medepligtiges is glo steeds op vrye voete. Foto: iStock

’n Reeksverkragter van die Vrystaat is lewenslange tronkstraf opgelê vir elkeen van die drie verkragtings waaraan hy skuldig bevind is.

Moeketsi Lebuso (29) van Senekal is Dinsdag (8/10) in die Bethlehem-streekhof gevonnis. Hy is ook skuldig bevind aan twee aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder. 

Benewens die lewenslange vonnisse is Lebuso ’n bykomende sewe jaar tronkstraf opgelê op die aanrandingsklag, wat samelopend met sy lewenslange vonnisse uitgedien sal word. Hy is egter vrygespreek op ’n aanklag van roof.

‘Hulle het haar helder oordag in ’n afgesonderde gebied aangeval’

Lebuso en twee makkers het ’n vrou (37) in November 2016 verkrag nadat hulle haar van ’n taverne agtervolg het, sê Senokoatsane. “Hulle het haar helder oordag in ’n afgesonderde gebied aangeval.

“Die mans het haar ook met klippe bestook, probeer om haar oë uit te steek en haar bloedend en bewusteloos op die toneel gelaat,” sê Senokoatsane. Die vrou was aan die reeksverkragter bekend.


In September 2021 het hy ’n egpaar aangerand wat van ’n taverne af huis toe gestap het. “Hy het die man met ’n panga aangeval. Later het van sy makkers ook betrokke geraak. Lebuso het die vrou (nou 43) na ’n huis gedwing, waar hy haar deur die nag verkrag het.”

Tien maande later het Lebuso nog ’n vrou wat hy ook ken, verkrag nadat hulle saam ’n taverne verlaat het. “Hy het die vrou (24) oortuig om hom saam met haar te laat stap, kwansuis vir haar veiligheid. Op pad het hy haar egter iewers ingedwing, waar hy haar meermale verkrag het.”

Volgens Senokoatsane is Lebuso se medepligtiges steeds op vrye voete.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.