On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Die waarheid oor sonbeddens: voordele én gevare

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:57 Thu, 10 Oct 2024

Die waarheid oor sonbeddens: voordele én gevare | News Article
Jy hoef nie ure in die son te lê nie. Foto: iStock

Sonbeddens het ’n gewilde manier van verbruining geword sonder om ure in die son deur te bring.

Hoewel dit gemaklik is, hou die gebruik van sonbeddens egter ook aansienlike risiko’s in, berig National Institute of Health (NIH).

Gevare:

1. Verhoogde risiko vir velkanker

Die grootste en bekendste gevaar van sonbeddens is die verhoogde risiko vir velkanker, veral melanoom, die dodelikste soort velkanker. Die Wêreldgesondheidsorganisasie klassifiseer sonbeddens as ’n Groep 1-karsinogeen, wat beteken dis ’n bewese oorsaak van kanker.

Daar is ’n verhoogde risiko vir velkanker. Foto: iStock

2. Veroudering

Gereelde gebruik van sonbeddens kan die velveroudering versnel, wat plooie, fyn lyntjies en slap vel veroorsaak. Die UV-straling beskadig die vel se elastisiteit, wat gebruikers ouer laat lyk was wat hulle in werklikheid is.

3. Velskade en brandwonde

Hoewel sonbeddens beheer word, kan dit brandwonde veroorsaak, veral as dit oormatig of verkeerd gebruik word. Die UV-straling kan die dieper lae van jou vel beskadig, wat tot pynlike brandwonde en langtermynskade lei.

4. Oogskade

Sonder behoorlike oogbeskerming kan die UV-strale van sonbeddens katarakte veroorsaak en selfs tot permanente sigverlies lei. Die oë is veral sensitief vir UV-lig, en die skade kan mettertyd kumulatief wees.

Gebruik oogbeskerming. Foto: iStock

5. Verswakte immuunstelsel

Oormatige blootstelling aan UV-straling kan die immuunstelsel onderdruk, wat ’n mens kwesbaarder vir infeksies en ander siektes maak.

Hoe om die gevare te verminder:

1. Beperk sessies

Vermy gereelde en langdurige sessies. Gebruik dit net dan en wan en volg die aanbevelings wat deur sonbruinsalonne verskaf word vir veilige blootstellingstye.

2. Gebruik oogbeskerming

Dra altyd ’n beskermende bril wat ontwerp is vir sonbruinbeddens. Moet nooit daarop staatmaak om bloot jou oë toe te maak nie aangesien UV-lig die ooglede kan binnedring en skade kan veroorsaak.

3. Bevogtig en beskerm jou vel

Wend bevogtigers aan wat antioksidante bevat voor en ná die gebruik van die sonbed om jou vel te help beskerm teen die skadelike effekte van UV-straling.

4. Bly gehidreer

Drink baie water voor en na verbruining om jou vel gehidreer te hou en die uitdroënde effek van UV-lig tot die minimum te beperk.

Drink baie water. Foto: Facebook

Hoewel die risiko’s geneig is om die voordele te oorskadu, wend sommige mense hulle om sekere redes na sonbeddens:

Vyf voordele van sonbed volgens Sunbed.com:

1. Ontspan en verlig pyn

Sonbeddens help om spiere te ontspan en styfheid te verlig, en bied verligting van lyfseer.

2. Kan jou immuunstelsel versterk

UV-blootstelling bied vitamien D, wat die immuunstelsel versterk en jou liggaam help om siektes te beveg.

Dit is ontspannend en verlig pyn. Foto: iStock

3. Vinnige en egalig bruin

Sonbeddens gee jou ’n vinnige en egalige sonbruin, sonder om bekommerd te wees oor ongelyke kolle van die natuurlike son.

4. Tyddoeltreffend

Jy hoef nie ure in die son te lê nie en kan ’n sonbedsessie by jou skedule inpas sonder die behoefte aan lang sonblootstelling of salon-afsprake.

5. Beheerbaar

Anders as die natuurlike son, bied sonbeddens beheerbare blootstelling. Gebruikers kan hul verlangde vlak van UV-lig instel, met ingeboude veiligheidskenmerke soos tydhouers wat outomaties afskakel om oormatige blootstelling te voorkom.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.