On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse begraafplaas loop deur onder vandalisme

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:51 Wed, 09 Oct 2024

Bloemfonteinse begraafplaas loop deur onder vandalisme | News Article
Memoriam-begraafplaas. Foto verskaf

Dringende stappe moet gedoen word om verdere plundering te voorkom aan die krematorium wat binne die Memoriam-begraafplaas geleë is.

So sê Valerie de Kock, Mangaung-VF Plus-raadslid, nadat misdadigers Woensdag (9/10) in die vroeë oggendure ’n klep uit ’n petroltenk by die krematorium gesteel het, wat omliggende inwoners se lewe in gevaar gestel het.”

De Kock waarsku swak instandhouding en algehele verval van die Memoriam-begraafplaas hou veiligheidsrisiko’s in en wek reeds jare lank kommer by inwoners.

Stukkende heining by die begraafplaas. Foto: Facebook

“Die lang gras, bosse en verskeie stukkende heinings bied ’n ideale teelaarde vir kriminele elemente. Drie voertuie het reeds deur die heining gery, en die skade is steeds nie herstel nie.”

Daarom het die VF Plus geëis dat Sello More, munisipale bestuurder, werk maak van die dringende behoefte aan heiningherstelwerk en bykomende sekuriteitmaatreëls implementeer om verdere voorvalle te verhoed.

Boonop woon onwettige plakkers glo in ’n verlate huis op die perseel. De Kock is bekommerdoor die ontoereikendheid van veiligheidsmaatreëls en sê die begraafplaas is so groot en verwaarloos, dis amper onmoontlik vir patrollies om onwettige toegang te keer.

Rommel by die begraafplaas. Foto verskaf

“Die VF Plus beplan ook om vrae in die Vrystaatse wetgewer te opper oor die teenwoordigheid van gas in die tenks, aangesien die krematorium al langer as twee jaar nie gebruik word nie.”

Dit is egter nie die eerste keer dat die party bystand vir die begraafplaas versoek nie. Die begraafplaas het voorheen erge oorstromings van rioolvuil ervaar weens die gebrek aan toesig en instandhouding deur die metro.

Die grafte en grafstene loop ook deur onder vandalisme, het Adriaan de Bruyn VF Plus-LP vroeër gesê. Ná volgehoue druk van die VF Plus het Mangaung-metro uiteindelik die nodige herstelwerk gedoen om die groot rioollekkasie in die begraafplaas stop te sit.

OFM Nuus het die munisipaliteit om kommentaar genader.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.