On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Mense word ál ouer, maar nie meer so vinnig nie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:33 Tue, 08 Oct 2024

Mense word ál ouer, maar nie meer so vinnig nie | News Article
Prioritiseer jou geluk. Foto ter illustrasie: iStock

“Gelukkiger individue het ’n 3,7% laer risiko van ’n vroeë dood. Blymoedigheid kan langslewendheid met tot 18% verhoog. Vermy spanning en angs, wat jou risiko van vroeë dood verdubbel.”

Mense wêreldwyd se lewensverwagting is al jare lank aan die toeneem, maar nou toon nuwe navorsing dié tendens is aan die afneem.

Die klem begin nou verskuif van langer leef na béter leef, berig SKY News, selfs op ’n besonder hoë ouderdom.

In die studie is bevind nadat lewensverwagting die afgelope eeu byna verdubbel het, het dié drastiese toename die laaste drie dekades verlangsaam. Ondanks vooruitgang in medisyne en openbare gesondheid leef die oudste mens nou net ses jaar en ses maande langer as die oudste mens in 1990.

Leef langer én beter

Tog meen wetenskaplikes die inwoners van die meeste lande sal wel eendag kan verwag om 100 jaar oud te word, berig Nature Ageing.

Volgens Healthline kan dié tien gewoontes jou langer help leef terwyl dit jou lewensgehalte tot op ’n hoë ouderdom sal verbeter: 

  • Eet meer neute
    Neute bevat volop proteïene, vesel en antioksidante. Dis voordelig vir hartgesondheid en bloeddruk en kan die risiko van voortydige dood met tot 39% verminder. Selfs ’n paar porsies per week kan sterfterisiko’s aansienlik verlaag.

Foto ter illustrasie: iStock

  • Stel borrie op die proef
    Curcumin in borrie het antioksidant- en anti-inflammatoriese eienskappe wat mense kan beskerm teen ouderdomsiektes en ons lewensduur verleng.
  • Eet volop gesonde plantvoedsel
    Plantgebaseerde diëte hou verband met minder gevaar van kanker, hartsiektes en vroeë dood. Vegetariese en veganistiese diëte kan die risiko om aan ernstige siektes te sterf, met 12–52% verminder.

Foto ter illutrasie: iStock

  • Bly aktief
    Selfs ’n kwartier se oefening daagliks kan ’n mens se lewe met drie jaar verleng. Langer as 150 minute se oefening per week verminder die risiko van vroeë dood met 28%.
  • Laat staan die kankerstokkies
    Rook kan ’n mens se lewe met tot tien jaar verkort. Om op te hou, selfs later in jou lewe, kan steeds jare by jou lewensduur voeg.

Foto ter illustrasie: iStock

  • Hou matigheid voor oë
    Matige drankverbruik kan vroeë sterfterisiko’s met 17–18% verminder. Sommige navorsers beweer wyn hou bykomende voordele vir hart- en breingesondheid in. Oormatige drinkery verhoog egter die risiko van baie siektes, maan Harvard Health.
  • Prioritiseer jou geluk
    Gelukkiger individue het ’n 3,7% laer risiko van vroeë dood. ’n Blymoedigheid kan langslewendheid met tot 18% verhoog. Vermy spanning en angs, wat jou risiko van vroeë dood verdubbel.
  • Wees meer pligsgetrou
    Selfdissipline en organisasie hou verband met ’n 11% langer lewe. Pligsgetroue mense het ook minder gesondheidsprobleme en laer stresvlakke.
  • Drink koffie of tee
    Matige verbruik van koffie of tee hou verband met ’n 20–30% laer risiko van vroeë dood en verminderde risiko’s van chroniese siektes soos diabetes en hartsiektes.

Foto ter illustrasie: iStock

  • Leer ’n goeie slaappatroon aan
    Om 7–8 uur per nag te slaap en gereelde slaappatrone te handhaaf kan die risiko van vroeë dood verminder. Te min of te veel slaap kan lewensduur verkort.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.