On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse Kinderkoor sien uit na jaarlikse galakonsert

───   KAREN VAN DER BERG 14:40 Tue, 01 Oct 2024

Bloemfonteinse Kinderkoor sien uit na jaarlikse galakonsert | News Article
Kaartjies vir die jaarlikse galakonsert is by Webtickets beskikbaar. Foto verskaf

“Enige musiekliefhebber sal beslis die konsert geniet.”

Die jaarlikse galakonsert van die Bloemfonteinse Kinderkoor is altyd ’n groot hoogtepunt op die koor se kalender. Vanjaar se konsert, wat Vrydagaand (4/10) plaasvind, gaan geen uitsondering wees nie.

Werner Stander, die dirigent van die koor, sê hulle sien baie uit na die konsert omdat al die musiek van die afgelope jaar gekombineer word en die koorlede se talent en harde werk ten toon gestel word.

“Ons bied ’n groot verskeidenheid van musiek aan. Daar is musiek van Handel se Messias, operastukke, musiek van Queen en selfs ook van Suid-Afrikaanse komponiste. Enige musiekliefhebber sal beslis die konsert geniet.”

Koorlede se talent en harde werk op konsert ten toon gestel. Foto verskaf

Wat die konsert nog meer besonders maak, is dat daar verskillende soorte instrumente gespeel gaan word, van klarinet, tot baskitaar en perkussie. “Dit gaan ’n wonderlike aand wees en ons sien baie uit daarna.”

Werner sê hulle het ’n baie goeie jaar met ’n suksesvolle toer agter die rug. “Ons het die kusdorpe van die Suid- en Wes-Kaap besoek. Ons het soveel besienswaardighede ingepas en saam met wonderlike kore opgetree. Ons het selfs hier en daar staande ovasies ontvang.”

Die toer het baie besienswaardighede ingepas. Foto verskaf

Die kinderkoor bou ook nou op na ’n Europese toer wat volgende jaar plaasvind.

Werner is baie dankbaar om te kan sê die koor gaan van krag tot krag. “Daar is 71 kinders wat sing en hulle verteenwoordig die meeste skole in Bloemfontein.

“Dit is almal kinders wat sterk leierskapposisies in die skole het. Dit is kinders wat gebalanseerd is. Ons het baie optredes en word gereeld genooi om te sing. Ons het regtig ’n geseënde jaar.”

Voorts sê hy dit is belangrik vir die Bloemfontein kinderkoor om soveel as moontlik plaaslik op te tree. Asook in die platteland. Op dié manier speel hulle ’n groot rol in die gemeenskap en probeer hulle om deurlopend betrokke te wees.

Kinderkoor bou op na Europese toer volgende jaar. Foto verskaf

Werner sê nog ’n hoogtepunt op die kalender later die jaar is ’n konsert saam met die Vrystaatse simfonieorkes en die koor van die Universiteit van die Vrystaat. “Dit gaan ’n besonderse produksie wees.”

•Die jaarlikse galakonsert vind Vrydagaand 4 Oktober om 18:00 in die Doxa Deo-kerk in Fichardtpark plaas. Kaartjies is by Webtickets beskikbaar.  

OFM Nuus cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.