On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bethlehem: Matriekmeisie ontslaan ná ongeluk waarin ma sterf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:56 Wed, 25 Sep 2024

Bethlehem: Matriekmeisie ontslaan ná ongeluk waarin ma sterf | News Article
Evané du Toit saam met haar ma, Doré. Foto: Facebook

“hulle wag eers dat die dogters herstel voor hulle die gedenkdiens reël.”

Die meisie van Bethlehem wat op die dag van haar matriekafskeid in ’n ongeluk saam met haar ma en suster betrokke was, is uit die hospitaal ontslaan.

Begrafnisreëlings vir Evané du Toit se ma, Doré du Toit (44), wat in die ongeluk gesterf het, moet nog getref word. Doré se stiefma, Drice Rossouw, sê hulle wag eers dat die dogters herstel voor hulle die gedenkdiens reël.

Du Toit was Vrydagmiddag (20/9) saam met haar twee dogters, Dorijke (21) en Evané (18), in ’n motorongeluk betrokke terwyl hulle voorbereidings vir Evané se groot aand getref het. Sy is op die toneel dood verklaar en haar dogters het ernstige beserings opgedoen.

Dorijke en Doré du Toit. Foto Facebook

Dorijke se bekken en werwels is beseer, terwyl Evané ’n ernstige kopbesering opgedoen het.

Rossouw het Woensdag (25/9) aan OFM Nuus gesê Evané is Sondag (22/9) ontslaan, maar Dorijke moet nog twee weke in die hospitaal bly vir waarneming omdat sy plat moet lê.

Hulle was op pad terug na Bethlehem vanaf die gasteplaas Lavender Hill, waar Evané, onderhoofmeisie van die Hoërskool Witteberg, haar matriekafskeid Vrydagaand (20/9) sou bygewoon het.

“Hulle het hul hare vir die geleentheid laat doen by ’n salon op Lavender Hill toe ’n bakkie met ’n sleepwa aan die regterkant met hul motor gebots het,” sê Rossouw.

Doré en Evané du Toit. Foto Facebook

Die ongeluk het omstreeks 15:00 plaasgevind toe hulle op pad terug was na Bethlehem waar hulle beplan het om hul grimering te doen, aan te trek en foto’s te neem vir die afskeid.

Du Toit, wat op Bethlehem gebore en getoë is, het die afgelope jare in George gewoon en gewerk, terwyl Evané by haar pa, Francois du Toit, op Bethlehem gebly het. Die susters het ’n jonger broer, Rossouw (13).

Drice het Du Toit beskryf as die mooiste vrou en die wonderlikste ma waarvoor haar kinders kon vra. “Haar skoonheid was nie net aan die buitekant nie, maar sy het ook die mooiste hart gehad. Haar diep geloof in haar Hemelse Vader het haar gekroon as ’n ware kind van God.”

Du Toit word oorleef deur haar pa, Ben Rossouw, en  twee broers, Koos en Pienaar Rossouw.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.