On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Sneeustorm: Sarza-reddingspan gryp in om mense op N3 te help

───   HEIDRÈ MALGAS 15:27 Mon, 23 Sep 2024

Sneeustorm: Sarza-reddingspan gryp in om mense op N3 te help | News Article
Sarza het hul Gauteng en Vrystaatspan ontplooi om hulpverlening te bied aan motoriste wat in verskeie dele van die Vrystaat en KZN gestrand was. Foto verskaf

“Die SHERP kan oral ry en is vir ons geleen deur ’n maatskappy van Gauteng.”

’n Nasionale, onafhanklike soek-en-reddingspan het hand bygesit om motoriste by te staan en te help red wat op die N3 in die KwaZulu-Natalse Middellande gestrand was.

Search and Rescue South Africa (Sarza), ’n organisasie sonder winsoogmerk, se Gauteng- en Vrystaatspan is ontplooi om hulp, redding- en herstelpogings aan motoriste te bied wat in verskeie dele van die Vrystaat en KZN weens ernstige sneeustorms gestrand was.

“Die grootste uitdaging was die verkeersopeenhoping, wat dit moeilik gemaak het om by die motoriste uit te kom. Daar was honderde vragmotors wat in al vier bane gestaan het,” sê Marco Pereira, Vrystaatse Sarza-voorsitter.

Die SARZA soek-en-reddingspan het motoriste op die N3 in die KwaZulu-Natalse Middellande wat gestrand was, gehelp. Foto verskaf

Sarza is ’n groep hoogs opgeleide vrywilligers en 4x4-eienaars in Suid-Afrika, met streekspanne landwyd. Die eenheid bied soek-en-reddingsdienste in plattelandse en stedelike gebiede, asook vervoer, logistieke ondersteuning en radiokommunikasie op ruwe terreine en stedelike gebiede in tye van nood, soos burgerlike, nasionale en internasionale noodgevalle.

Pereira sê daar was 13 4x4’s en omtrent 15 spanlede, bestaande uit Vrystaatse en Gautengse lede.

“Die span het ’n SHERP gebruik om die paaie te help skoonmaak en om kos en water by die motoriste te kry. Die SHERP kan oral ry en is vir ons geleen deur ’n maatskappy van Gauteng.”

DCD Protected Mobility het 'n SHERP beskikbaar gemaak met die hulp van SARZA om meer mense te probeer red uit die koue. Foto verskaf

’n SHERP is ’n betroubare amfibiese nutsvoertuig wat enige terrein kan aandurf en die moeilikste natuurlike hindernisse kan oorkom. Dit is ook die enigste wielevoertuig wat van water op ys kan klim, tot 5 582 m bo seevlak kan funksioneer en tot 1 m hoë hindernisse kan oorkom.

Pereira sê een van die reddingspogings wat vir hom uitgestaan het, was ’n bus vol kinders wat hulself gehelp het om uit die sneeu te kom en uiteindelik veilig hul bestemming bereik het. Sy topraad aan motoriste wat dalk oorweeg om in slegte weerstoestande te reis is om altyd die weer na te gaan om te bepaal of dit veilig is om te vertrek.

Kyk vir ekstreme weerstoestande as jy moet reis en pak ’n noodsak met ekstra water, kragbanke, kos, ’n kombers en enigiets anders wat jy dalk nodig sal kry indien jy êrens gestrand sou wees. Laat altyd iemand weet hoe jou reis verloop en waar jy is. Bly deurentyd in verbinding met iemand sodat hulle jou ligging ken.

SARZA se Vrystaat-tak sluit Welkom, Virginia en Bloemfontein in met 21 lede. Foto verskaf

Die span gebruik hul eie 4x4’s, en betaal vir hul eie diesel of petrol, lugtyd vir oproepe, en die koste van hul opleiding, tensy ’n individu of ’n maatskappy aanbied om hulle te borg.

Sarza was reeds by tallose reddingspogings hier en in die buiteland betrokke, soos KwaZulu-Natal se vloed en die Jagersfontein-ramp in 2022, die aardbewing in Haïti in 2010, die oorstromings in Malawi in 2015, en verlede jaar se aardbewing in Turkye.

Besoek Sarza se skarefinansieringsblad as jy ’n bydrae wil lewer.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.