On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

VF Plus sal weens Bela deelname aan RNE heroorweeg

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:18 Mon, 23 Sep 2024

VF Plus sal weens Bela deelname aan RNE heroorweeg  | News Article
Foto Facebook

“Alle Afrikaanse enkelmediumskole sal druk van bo af ondervind. Ons weet ook uit ondervinding dat ’n dubbelmediumskool dikwels oorgaan na ’n Engelse enkelmediumskool, en gereeld sommer baie vinnig.”

In die politiek is dit altyd ’n geval van gee en neem: Wat is vir jou op die oomblik belangrik, en wat is jy bereid om op te offer om dit te bereik?

So verduidelik dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse VF Plus-leier, ná die ondertekening van die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela).

Terwyl sommige klousules tydelik opgeskort is, spreek Boshoff kommer uit oor die potensiële uitwerking daarvan op lang termyn. Pres. Cyril Ramaphosa het die wet Vrydag (20/9) tydens ’n seremonie in die Uniegebou in Pretoria onderteken, hoewel klousules 4 en 5 opgeskort is weens besware van lede van die nasionale eenheidsregering (RNE).

Dr. Wynand Boshoff. Foto verskaf

Kragtens dié klousules mag hoofde van provinsiale onderwysdepartemente die laaste woord spreek oor skooltoelating en taalbeleidstellings.

John Steenhuisen, DA-leier, het net ná die ondertekening sy prokureurs opdrag gegee om die prosedurele aspekte wat tot die aanvaarding van die wetsontwerp gelei het, sowel as die inhoud daarvan, op grondwetlike gronde uit te daag.

“Die Bela-wet is nie net nog ’n lastige ANC-wet nie. Hierdie wet wil Afrikaanse enkelmediumskole binne die volgende paar jaar vernietig,” meen Boshoff.

Matome Chiloane. Foto: World Global

Matome Chiloane, Gautengse onderwys-LUR, het die doelwit van die wet duidelik uitgestippel toe hy ná die seremonie gesê het dat dit onaanvaarbaar is vir skole om leerlinge toegang tot skole nader aan hul huis te weier net op grond van taal, waarsku Boshoff.

Chiloane het gesê as die gemeenskap se demografie bepaal dat ’n skool ’n dubbelmedium-instelling moet word, moet dit gebeur sonder inmenging van die skool. Hierdie wet gee die departementshoof die mag om daardie besluit te neem.

Dubbelmedium in oogwink net Engels

“ ’n Skoolomgewing word nou gedefinieer as die onderwysdistrik, wat ’n baie groter gebied is as ’n skool se gewone opvangsgebied,” verduidelik Boshoff. “In hierdie onderwysdistrikte maak Afrikaanssprekendes selde meer as 20% van die leerderkorps uit.

“Alle Afrikaanse enkelmediumskole sal druk van bo af ondervind. Ons weet ook uit ondervinding dat ’n dubbelmediumskool dikwels oorgaan na ’n Engelse enkelmediumskool, en gereeld sommer baie vinnig.”

Ondanks sy kommer erken Boshoff die wet bestaan nie in isolasie van breër politieke dinamika nie. “Bela gaan oor onderwys, en onderwys is sentraal tot die VF Plus se missie.

“As ons deelname aan die nasionale eenheidsregering ’n ondoeltreffende manier blyk te wees om so ’n kritieke kwessie aan te (durf), dan het ons ’n ernstige probleem. Dit is nie iets wat kan afgeskud word asof dit nie saak maak nie.”

Volgens Boshoff is die RNE ’n noodsaaklike werktuig om aandag te skenk aan vraagstukke wat voorheen buite die VF Plus se beheer was. “Dis nie soos om ’n stukkie lekkergoed weg te gee omdat jy belangstelling verloor het nie. Bela verteenwoordig ’n groot kwessie, en ons moet die gee-en-neem wat die uitkoms daarvan sal vorm, noukeurig oorweeg.”

Hy sê hoewel Bela nie inherent problematies is nie, wentel dit om drie sleutelkwessies: tuisonderrig, skooltoelatings en taalbeleidstellings. “Dit gaan daaroor om te verseker dat die departement van onderwys nie sy wil op hierdie gebiede eensydig kan afdwing nie, al laat die huidige wet dit ook toe.”

Die VF Plus sal ’n plan moet beraam wat, hoewel dit nie noodwendig aan al sy voorkeure vir die hele wet voldoen nie, verseker dat skole beheer oor hul taal- en toelatingsbeleid behou, sê Boshoff. “Dit is van kardinale belang dat skole (gemeenskapsinstellings) bly eerder as om staatsinstellings te word wat ontwerp is om die regering se ideologie te weerspieël.”

Sy party het gekies om aan die RNE deel te neem omdat hulle dit nie kon bekostig om buite te staan wanneer hul kernbelange binne bespreek word nie, verduidelik Boshoff.

“Wat veral opmerklik is, is dat die ANC nie partye na die RNE uit vrygewigheid genooi het nie; (hy) het dit gedoen omdat (hy) dit nodig gehad het. Politiek gaan oor mag, en dit is ’n unieke geleentheid om vir die belange in die hart van die VF Plus te bepleit.”

Boshoff beklemtoon egter as die meganisme ondoeltreffend blyk te wees in die hantering van Bela, die party sal moet heroorweeg of voortgesette deelname sin maak. “Die VF Plus sal ’n besluit moet neem op grond van die beskikbare inligting.”

Tydens die ondertekening het Ramaphosa gewaarsku as konsensus nie bereik kan word nie, sal die wetsontwerp in sy geheel bekragtig word. 

Steenhuisen verwerp hierdie standpunt en voer aan so ’n benadering weerspreek die RNE se beginsel van “voldoende konsensus” oor omstrede vraagstukke.

“Die reg op moedertaalonderrig in Suid-Afrika is van kardinale belang, veral as in ag geneem word dat Afrikaansmediumskole minder as 5% van die land se skole verteenwoordig,” het Steenhuisen vroeër gesê. “Om hierdie skole in dubbel- of Engelsmedium-instellings te verander, sal nie die gehalte van onderwys verbeter nie.”

Beskerm kinders se toekoms

Dr. Dirk Hermann, die vakbond Solidariteit se uitvoerende hoof, het bygevoeg as die omstrede klousules nie verwyder of gewysig word nie, sal hulle en ander instellings van die Solidariteit Beweging met ’n hofsaak voortgaan. 

“Ons sal die stryd voortsit. Dit gaan nie net daaroor om ’n wet teë te staan nie, maar om die toekoms van ons skole en kinders te beskerm.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.