On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Skoliere, onderwysers veilig tuis nadat hulle in sneeustorm vasval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:54 Mon, 23 Sep 2024

Skoliere, onderwysers veilig tuis nadat hulle in sneeustorm vasval | News Article
Meer as 20 cm sneeu het in die omgewing van die suidelike Drakensberge geval. Foto: Facebook

“Teen Saterdagoggend het meer as 20 cm sneeu die omgewing van die suidelike Drakensberge bedek, volgens die N3-tolkonsessie.”

Leerders en onderwysers van twee Vrystaatse skole wat die naweek weens gure weer in die sneeu vasgeval het, is veilig tuis.

Die 67 leerders en twaalf onderwysers van die Primêre Skool Qwabi in Qwaqwa, sowel as 40 leerders en sewe onderwysers van die Openbare Skool Phomolong op Kroonstad, kon Maandag (23/9) teruggekeer huis toe, sê Mamiki Maboya, Vrystaatse LUR vir onderwys.

Foto: Facebook

Die groepe was op pad terug van ’n skooltoer in Durban.

Duisende motoriste het die naweek in snerpende koue vasgeval op roetes soos die N3, R74 en R617 weens swaar sneeu oor die Vrystaat en KwaZulu-Natalse Middellande.

Teen Saterdagoggend (21/9) het meer as 20 cm sneeu die omgewing van die suidelike Drakensberge bedek, volgens die N3-tolkonsessie (N3TC).

Nóg paaie in Sentraal-Suid-Afrika weens sneeu gesluit – VIDEO, FOTO’S | News Article

Foto: X

Maboya sê hulle is opreg dankbaar vir almal wat gehelp het om die veiligheid en welstand van die leerders en onderwysers in hierdie moeilike tyd te verseker.

Die N3TC sê die groot verkeersopeenhopings tussen KwaZulu-Natal en die Vrystaat is teen Maandagoggend opgeklaar toe normale verkeersvloei herstel is. “Alle paaie, insluitend die N3 tussen die Tugela Plaza en Harrismith, is sedert Sondagaand heroopgestel,” sê Thania Dhoogra, N3TC-bedryfsbestuurder.

Maar sy vra padgebruikers moet hul ritte beplan en voorbereid bly vir enige gebeurlikhede vóór hulle in die pad val. “Gee aandag aan pad- en weerstoestande, en bly op die hoogte. Toestande op ’n pad kan vinnig verander, soos ons die laaste paar dae gesien het.”

Foto: Facebook

Narend Singh, adjunkminister van bosbou, visserye en die omgewing, vra die publiek moet in die toekoms ag slaan op weerwaarskuwings en hul reisplanne noukeurig oorweeg.

Die African Transformation Movement (ATM) het Maandag in ’n verklaring gesê meer as 1 800 voertuie was op die N3 gestrand, terwyl twee mense hul lewe verloor het in die ysige weer.

“Dié voorval beklemtoon die kommerwekkende gebrek aan effektiewe leierskap en dringendheid van ons regering in krisistye,” sê Zama Ntshona, ATM-woordvoerder.

Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, bedank die plaaslike boeregemeenskap nadat talle boere met onder meer trekkers opgedaag en paaie die naweek help skoonskraap en gestrande motoriste bygestaan het. Hy sê dit bly ’n bekommernis dat die Vrystaat nie ’n funksionele rampbestuursentrum het nie.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.