On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Wetstoepassers soek steeds na ontvoerde vrou van Kaapstad

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:13 Mon, 23 Sep 2024

Wetstoepassers soek steeds na ontvoerde vrou van Kaapstad | News Article
Alize van der Merwe. Foto: Facebook

“Ek kan bevestig dat ’n losprys Saterdag vir haar geëis is, maar ek kan nie die bedrag bekendmaak nie. Dié inligting mag nie met die publiek gedeel word nie.”

Talle wetstoepassingsagentskappe soek onverpoos na ’n vrou van Kaapstad wat in die Oos-Kaap ontvoer is.

Die Valke lei die soektog na Alize van der Merwe (39) te midde van valse gerugte wat Sondag (22/9) die ronde gedoen het dat sy kwansuis veilig tuis is, sê ao. Ndiphiwe Mhlakuvana, Oos-Kaapse Valke-woordvoerder. Sommige sosialemediagebruikers het selfs bespiegel dat haar liggaam gekry is.

Mhlakuvana het Maandag aan OFM Nuus bevestig daar’s geen nuwe ontwikkelinge nie. “Ek kan bevestig dat ’n losprys Saterdag vir haar geëis is, maar ek kan nie die bedrag bekendmaak nie. Dié inligting mag nie met die publiek gedeel word nie.”

Die Toyota Fortuner waarin Alize van der Merwe gereis het. Foto verskaf

Van der Merwe, ’n finansiële bestuurder, was Vrydag op pad na die Umngazi-vakansieoord aan die Wildekus nadat sy vroeër die dag uit die Kaap op die Koning Phalo-lughawe in Oos-Londen geland en ’n Toyota Fortuner gehuur het.

Van der Merwe het die voertuig by Hertz gehuur, sê Mike Bolhuis, ’n private ondersoeker. Die laaste kommunikasie met haar geliefdes was omstreeks 11:30. Om 15:13 het iemand hulle gebel om te sê sy is ontvoer.

‘Valke is bekommerd oor die toename in ontvoerings in die Oos-Kaap’

“Haar huurmotor is naby Port St. Johns in die Oos-Kaap gevind. Die deure van die motor was oop, die ruitveërs was nog aan, en niks is gesteel nie,” het Bolhuis aan OFM Nuus gesê.

Mhlakuvana sê die ondersoekspan bestaan uit lede van talle wetstoepassingsagentskappe.

Hy het sê die Valke is bekommerd oor die toename in ontvoerings in die Oos-Kaap. Volgens die jongste misdaadstatistieke (vir die eerste kwartaal) is 135 ontvoerings vir ’n losprys in dié tydperk landwyd aangemeld, waarvan sewe in die Oos-Kaap was.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.