On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Mangaung-metro dreig om wanbetalers se watertoevoer af te sny

───   KEKELETSO MOSEBETSI 11:59 Fri, 13 Sep 2024

Mangaung-metro dreig om wanbetalers se watertoevoer af te sny | News Article
Die Mangaung-metro se hoofkantoor in Bloemfontein. Foto: OFM Nuus

“Die EFF is bewus dat die Mangaung-metro waterrekeninge uitgereik het wat wissel van R44 000 tot R90 000 per huishouding.”

Inwoners van Bloemfontein en omstreke met ’n agterstallige munisipale rekening word gewaarsku om hulle reg te maak vir wateronderbrekings.

Mangaung-metro het ’n kennisgewing hieroor aan agterstallige kliënte uitgereik. Die metro sukkel al jare met finansiële uitdagings en gaan stappe doen om meer inkomste in te vorder, noodsaaklike dienste aan sy inwoners te herstel en sy skuld te delg.

Die metro het vroeër vanjaar R3,46 miljard bewillig om sy leningsverpligtinge na te kom en verwante skuld te delg. Dié aansienlike bedrag is geoormerk vir die vereffening van sy rekeninge by Eskom, Vaal-Sentraal-waterraad en ander noodsaaklike grootmaatdienste. Leningterugbetalings van R155,2 miljoen is hierby ingesluit, terwyl planne om invorderingstrategieë te verbeter R69,5 miljoen sal beloop.

Die metro gaan begin met deur-tot-deur-verifikasie by die Brandwag-woonstelle om te verseker die kwalifiserende huurders begin hul huur betaal. Hy wil sy finansiële probleme probeer stabiliseer wat veroorsaak word deur oorweldigende skuld aan diensverskaffers en die nie-invordering van inkomste.

“Die inwoners van dié maatskaplike behuising is woedend oor die skielike afdwinging van waterafsluitings omdat baie nie gereeld hul munisipale rekeninge gekry het nie,” sê Mapheule Liphoko, Vrystaatse EFF-voorsitter. Hulle is eenvoudig net skielik ingelig hul watertoevoer sal afgesny word as reëlings vir afbetalings nie getref word nie.

“Die EFF is bewus daarvan dat Mangaung-metro waterrekeninge uitgereik het wat wissel van R44 000 tot R90 000 per huishouding,” sê Liphoko. “Sommige inwoners gebruik voorafbetaalde watermeters, maar weens probleme met hierdie meters het die metro dit vir hulle omseil om water te voorsien.

“Die gemeenskap moet nou die prys betaal vir mislukte diensleweringsprojekte want die tender vir die herstel van die watermeters was onsuksesvol.”

Die metro is een van dosyne munisipaliteite in Suid-Afrika wat sukkel om sy mandate vir dienslewerings na te kom weens ernstige finansiële probleme. Die metro gaan gebuk onder voortdurende uitdagings al is dit in 2018 onder administrasie geplaas. Dit sluit ook in politieke binnegevegte.

OFM Nuus het vroeër berig oor bewerings dat senior amptenare met politieke affiliasies in ’n stryd met mekaar was. Dit het pogings verder bemoeilik om die metro se administrasie te bestuur en verbeter.

Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal, het in haar Junie 2023-verslag beklemtoon die finansiële situasie van 70 uit 241 munisipaliteite waar oudits afgehandel is, so erg was dat daar kommer bestaan oor hul vermoë om enigsins te funksioneer. Mangaung is een van hierdie munisipaliteite en Liphoko het dit beskryf as ’n “ramp” wat steeds sy inwoners in die steek laat deur nie ’n skoon en veilige omgewing te skep nie.

Liphoko het ook die metro gekritiseer omdat hy faal in sy grondwetlike mandaat om afvalbestuur te reguleer, insluitend die insameling, skeiding, berging, verwerking, herwinning en wegdoening van afval.

Hy het daarop gewys dat sommige inwoners wat reeds private vullisverwyderingsdienste gebruik die reg moet hê om hul munisipale dienste en gepaardgaande koste te kanselleer.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.