On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Eerste 100 dae: Volpunte vir Bloemfontein se privaat brandweerdiens

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:18 Fri, 13 Sep 2024

Eerste 100 dae: Volpunte vir Bloemfontein se privaat brandweerdiens | News Article
Foto verskaf

“Elke minuut is lewensbelangrik om lewens en bates te beskerm, want elke minuut kan die verskil tussen lewe en dood beteken.”

’n Privaat brandweerdiens in Bloemfontein vier nie net ’n belangrike mylpaal nie, maar spog ook met indrukwekkende, eerstewêreldse reaksietye.

Dis honderd dae sedert die AfriForum Brandweer in Bloemfontein sy brandweerwa in die stad ingetrek het. Dié privaat brandweerdiens handhaaf van toe af ’n gemiddelde reaksietyd van ses minute vir die 30 noodsituasies waarop hy reeds gereageer het, sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis van AfriForum.

Sy glo dié spoedige reaksie op 13 huis- en 13 veldbrande, drie voertuigbrande en een reddingsoperasie die afgelope sowat drie maande in Bloemfontein, het skade noemenswaardig help beperk.


Elke minuut is lewensbelangrik om lewens en bates te beskerm, sê Cooks, “want elke minuut kan die verskil tussen lewe en dood beteken”.

Navorsing dui op ’n duidelike verband tussen brandweerdienste se reaksietyd en die omvang van brandskade. Juis daarom is dit noodsaaklik om voort te bou op die hoë reaksietyd-standaard wat reeds binne die eerste honderd dae van dié privaat diens se bestaan gehandhaaf kon word.”

Cooks sê die brandweerdiens se reaksietyd vergelyk dikwels met dié wat in eerstewêreldse lande aangemeld word en oortref dit selfs.

Foto verskaf

“Hoewel verskeie aspekte in berekening geneem moet word om die sukses van ’n brandweerdiens te bepaal, is reaksietye ’n kritieke element.”

Vergelykbare statistiek toon dat brandweerdienste in Engeland in 2022/23 ’n gemiddelde reaksietyd van net meer as nege minute vir primêre brande (oftewel die ernstigste soort) gehandhaaf het.

Voorts beveel die National Fire Protection Association (NFPA), ’n internasionale organisasie wat standaarde vir brandbestryding stel, ’n reaksietyd vir brandwere van 560 sekondes – oftewel 9 minute en 20 sekondes – aan.

Volgens Cooks is reaksietye van munisipale brandweerdienste op eie bodem ’n ernstige probleem. ’n Witskrif van Augustus 2020 oor Suid-Afrika se brandweerdienste dui op die gebrek aan tydige reaksie van munisipale nooddienste, waaronder brandweerdienste.

Van die probleme is onvoldoende aanspreeklikheid by sekere munisipaliteite, ’n tekort aan doeltreffende bestuur en swak instandhouding van toerusting.

Aan die hand van Nieu-Seelandse navorsing wat reeds in 2010 gedoen is, sê Cooks vir elke minuut wat ’n brandweerdiens byvoorbeeld vroeër by huisbrande opdaag, word die koste van strukturele brandskade met meer as R44 000 beperk. Dit kan nou reeds veel meer wees.

AfriForum Brandweer het dus reeds in sy eerste 100 dae uitsonderlike beskerming van lewe én bates gebied. “Ons sien uit om op hierdie beskerming van Bloemfontein en sy mense voort te bou,” sê Cooks.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.