On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Beweerde aanranding deur onderwyser by Olympia Primêre Skool in Bloemfontein ondersoek

───   ZENANDE MPAME 16:18 Thu, 12 Sep 2024

Beweerde aanranding deur onderwyser by Olympia Primêre Skool in Bloemfontein ondersoek | News Article
Beweerde aanranding deur onderwyser by Olympia Primêre Skool in Bloemfontein ondersoek. Foto: Facebook/Team Olympia Heidedal

“Die LUR vir Onderwys veroordeel lyfstraf in skole ten sterkste.”

Lyfstraf is verbode in Suid-Afrikaanse skole en onderwysers wat hulle daaraan skuldig maak, kan ernstige gevolge verwag, soos afdanking en deregistrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (Saro), waarsku die Vrystaatse onderwysdepartement

Amptenare ondersoek ’n voorval by die Olympia Primêre Skool waar ’n onderwyser na bewering op Woensdag (11/9) ’n gr. 3-leerder (8) in die klas aangerand het, voor die kind se klasmaats.

Foto’s van die meisie se gekneusde en geswelde gesig is intussen op sosiale media versprei.

Die departement sal psigososiale en ander vorme van ondersteuning bied aan die betrokke leerder en ander wat hierdie voorval aanskou het, sê Howard Ndaba, woordvoerder. Foto: Bloemfontein Courant

“Die Vrystaatse departement van onderwys veroordeel die toepassing van lyfstraf in Olympia Primêre Skool ten sterkste,” sê Howard Ndaba, woordvoerder. “Ons is verstom deur hierdie daad en ons ondersoek die saak.

“Soos ons almal weet, is lyfstraf verbode en ons verwag dat onderwysers hiervan weet.”

Die departement sal psigososiale en ander vorme van ondersteuning bied aan die betrokke leerder en ander wat hierdie voorval aanskou het, sê hy.

Dié laerskool in Heidedal was onlangs ook in die nuus toe ontstoke inwoners geëis het dat die waarnemende hoof bedank. Onderwysers en leerders is in Augustus verhinder om die skoolterrein te betree toe betogers die ingang versper, gesing en buitebande voor die skoolhek gebrand het.

Om ’n plofbare situasie te ontlont, het die LUR vir onderwys ouers en ander belanghebbendes versoek om die departement se vermoë te vertrou om ’n regverdige en onpartydige ondersoek te doen na die bewerings teen Maggie Lebakeng, waarnemende skoolhoof.

Die inwoners het beweer sy ignoreer hul klagtes, onder meer dat sy ouers en onderwysers intimideer. Hulle was ook ontevrede oor onvoldoende veiligheidsmaatsreëls by die skool.

“Artikel 10 van die Suid-Afrikaanse Skolewet is uitdruklik ten opsigte van lyfstraf en die versuim om aan hierdie bepalings te voldoen het ernstige implikasies, insluitend afdanking en deregistrasie deur Saro,” sê Ndaba.

Die LUR vir Onderwys het ouers versoek om te verseker dat voorvalle van hierdie aard sonder huiwering na die betrokke owerheid verwys word om nakoming van wetgewing en respek vir leerders se regte af te dwing.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.