On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Duineveld-leerders hoor oor regte, pligte ná rassistiese video

───   HEIDRÈ MALGAS 06:00 Thu, 12 Sep 2024

Duineveld-leerders hoor oor regte, pligte ná rassistiese video  | News Article
Abraham Vosloo. Foto verskaf

“Die Hoërskool Duineveld nooi ’n sosialemediakenner om met leerders te kom gesels oor die gevare van sosiale media.”

Leerders van die Hoërskool Duineveld op Upington gaan touwys gemaak word oor hul regte en verantwoordelikhede, sosialemediagebruik en aanspreeklikheid ná die onlangse rasseherrie oor ’n TikTok-video.

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement span kragte saam met die Menseregtekommissie en die NVG vir dié opleiding, terwyl die skool ’n sosialemediakenner nooi om ’n oop gesprek te voer met leerders oor die gevare van sosiale media sodat ’n soortgelyke voorval in die toekoms verhoed kan word.

n Herrie het verlede week losgebars oor ’n TikTok-video waarin ’n leerder van die skool ’n onbekende sosialemediagebruiker die k-woord noem. Die seun is geïdentifiseer as ’n leerder aan die Hoërskool Duineveld, het Brandon Geswindt, adjunkkoördineerder van die ANC-Jeugliga in die ZFM-streek, gesê. Die seun het ook ’n skeldnaam vir Amerikaanse swart mense gebruik.

Die skool het al vier leerders summier vir sewe dae geskors ná die rassistiese video. Foto: Google Maps

“Die onderwys-LUR Abraham Vosloo het die Hoërskool Duineveld besoek om met die skoolbestuurspan en -beheerliggaam oor die … TikTok-video te praat waarby vier leerders betrokke was,” sê Van der Merwe.

Hoewel die leerders geskors is hangende hul tugverhoor op Dinsdag (17/9), was dit noodsaaklik om die feite vas te stel en saam te stem oor ’n gesamentlike benadering om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom. Die skool het hulle summier vir sewe dae geskors, hangende ouerlike toestemming, sê Geswindt ná ’n vergadering Woensdag (4/9) met die skool.

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement het bevestig al vier leerders (tussen 17 en 18 jaar) in die TikTok-video is leerders van dié skool.

Skermgreep van TikTok-video. Foto: TikTok

“Die Hoërskool Duineveld het beloof om saam met die departement te werk vir tugverhore en om voortgesette opvoedkundige programme te implementeer wat toegespits is op rehabilitasie en die bevordering van nasionale identiteit,” sê Van der Merwe.

Die departement is tevrede met die Hoërskool Duineveld se hantering van die situasie en verseker die publiek dat alle optrede in ooreenstemming met voorgeskrewe wetgewing en die skool se gedragskode was.

OFM Nuus/ Heidre Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.