On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Hartswater wil munisipale skuld invorder, raadslede egter self agterstallig

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Thu, 12 Sep 2024

Hartswater wil munisipale skuld invorder, raadslede egter self agterstallig | News Article
Foto: Hartswater.com

“Nagenoeg R1,14 miljoen, wat raadslede al langer as 90 dae skuld volgens die mees onlangse syfers wat aan die raad voorgelê is, is ’n geval van ‘botsende belange’.”

Phokwane-munisipaliteit op Hartswater bestuur ’n veldtog om inwoners se agterstallige munisipale skuld in te vorder, maar raadslede skuld hul eie munisipaliteit meer as R1,1 miljoen.

Met die Spring Bonanza-veldtog hoop die Noord-Kaapse plaaslike owerheid om minstens ’n deel van die R1 miljard munisipale skuld in te vorder, sê VF Plus-raadslid Rickus Te Baerts. Dis veral toegespits op agterstallige diensterekeninge en erfbelasting.

Vir elke rand wat inwoners in hierdie tyd van hul skuld delg, sal Phokwane een rand afskryf. Die munisipaliteit skryf dus 50% van alle skuld af.

Bron: Facebook

Te Baerts meen egter die nagenoeg R1,14 miljoen wat raadslede al langer as 90 dae skuld, volgens die mees onlangse syfers wat aan die raad voorgelê is, is ’n geval van “botsende belange”.

’n Omstrede aspek van die raad se besluit is dat dit ook geld vir rekeninge wat op datum is, nie net rekeninge wat meer as 90 dae agterstallig is nie, sê Te Baerts. “Toe die VF Plus die besluit teengestaan het, is hierdie bepaling gehandhaaf.”

‘Dit moedig net ’n kultuur van wanbetaling aan’

Te Baerts sê die veldtog het intussen ’n “rasse-kleur” gekry. “Sommige raadslede voer aan dat wit inwoners voorheen bevoorreg was en moes betaal, terwyl teen swart inwoners gediskrimineer is.

“Die VF Plus het nog altyd volgehou dat dienstegeld nie afgeskryf moet word nie, aangesien dit net ’n kultuur van wanbetaling aanmoedig, selfs onder lojale belastingbetalers.”

’n Anonieme inwoner het die VF Plus ingelig oor ’n geval waar ’n ander inwoner se betaling op die volle bedrag van sy rekening aangewend is, soos geadverteer. Maar toe dié inwoner probeer om dieselfde afslag te gebruik, het ’n amptenaar hom meegedeel dat hy nie kwalifiseer nie.

Rickus Te Baerts. Foto: Facebook

Volgens Te Baerts was die rekeninge soortgelyk; al verskil was die betalers se ras. “Selfs al neem die munisipaliteit ’n swak besluit, moet dit sonder diskriminasie toegepas word.

“Gegewe die omstredenheid rondom hierdie kwessie, is dit dalk beter om die veldtog heeltemal te kanselleer,” sê Te Baerts.

OFM Nuus het die munisipaliteit om kommentaar genader.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.