On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Druk by Pelonomi meer weens krisis by Nasionale Hospitaal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:24 Thu, 05 Sep 2024

Druk by Pelonomi meer weens krisis by Nasionale Hospitaal | News Article
Foto: Bloemfontein Courant

“Die LUR het in sy begrotingsposrede onderneem om die Nasionale Hospitaal se kraamafdeling ‘binnekort’ te heropen.”

“Solank die ANC in beheer van gesondheid in die Vrystaat bly, sal dit nie beter gaan nie.”

Dis die gevolgtrekking van Armand Cloete, Vrystaatse VF Plus-wetgewerlid, nadat die kraamafdeling van die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein steeds toe is ná vele beloftes om dit te heropen.

Cloete het Woensdag (4/9) ná ’n vergadering met Pelonomi se hospitaalbestuur ’n formele versoek gerig aan Monyatso Viceroy Mahlatsi, LUR vir gesondheid, om dringend maatreëls in te voer om die groot getal opnames in Pelonomi die hoof te bied.

Brand by hospitaal in Bloemfontein word ondersoek | News Article

Tientalle pasiënte ontruim ná brand by Bloemfontein-hospitaal. Foto verskaf

“Die onlangse brand in die Nasionale Hospitaal plaas geweldige druk op ander gesondheidsorginstellings,” sê Cloete. “Ek is bekommerd oor (die groot aantal) pasiënte wat tans in Pelonomi ingeneem word as alternatief vir die Nasionale Hospitaal.”

OFM Nuus het destyds berig 83 pasiënte is ontruim weens die brand op 7 Julie vanjaar.

In Cloete se brief noem hy veral die kraamsaal is oorvol waar 48 pasiënte meeding om net 17 beddens. Dit wek kommer dat pasgeborenes ’n tekort aan bedjies kan hê weens die groot getal opname. Alle eenhede van Pelonomi werk teen gemiddeld 139%-kapasiteit.

Mahlatsi en Godfrey Mahlatsi, hoof van die gesondheidsdepartement, het met Netcare oor ’n ooreenkoms gepraat, dat dié privaathospitaalgroep beddens beskikbaar kan stel, maar dis nie duidelik of die  ooreenkoms bereik is nie. “Ek beveel aan dat die 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein ook oorweeg kan word terwyl die Nasionale Hospitaal gesluit bly.”

Die LUR het in sy begrotingsposrede onderneem die Nasionale Hospitaal se kraamafdeling “binnekort” te heropen. Infrastruktuurprojekte by hospitale en klinieke begin egter altyd stadig en duur gewoonlik maande, waarsku Cloete.

“Sulke vertragings en ondoeltreffendheid sal voortduur solank die huidige politieke administrasie in beheer bly.”


Daar word vermoed dat ’n sigaret moontlik bome buite die gebou laat vlam vat het. Foto verskaf

Mahlatsi het verlede maand in reaksie op skriftelike vrae van Cloete erken die agterstand in mediese prosedures in die Vrystaat het die afgelope twee jaar bykans verdubbel tot 5 075.

Volgens Mahlatsi kan die hoë voorkoms van traumagevalle waarmee openbare gesondheidsdienste in sekere dele van die Vrystaat te kampe het, toegeskryf word aan die beperkte teaterkapasiteit, baie chirurgiese noodgevalle en te min beddens.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.