Central SA
Beproef dié boererate vir tandpyn─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:36 Thu, 05 Sep 2024
“Meeste tandpyn vereis mediese aandag, en hoewel pynstillers sonder voorskrif, soos ibuprofen, tydelik kan help, is professionele sorg nodig om die onderliggende probleem op te los.”
Tandpyn maak nie net seer nie; dit kan aansienlike ongemak veroorsaak en ’n mens slapelose nagte besorg.
Gelukkig kan boererate tydelike pynverligting bied totdat jy by die tandarts kan uitkom, berig Medical News Today.
Hier is tien tuis- en natuurlike middels vir tandpyn
Soutwaterspoel
’n Soutmondspoel tree op as ’n natuurlike ontsmettingsmiddel, wat verligting van tandpyn bied. Dit help om die mond skoon te maak, deeltjies te verwyder wat tussen tande vasgevang is, en kan ontsteking verminder.
Meng ’n halwe teelepel sout in warm water en spoel jou mond gereeld daarmee uit.
Foto: Colgate
Koue kompres
Koue kompressie (drukking) is ’n nuttige middel vir enige soort besering; tandpyn is geen uitsondering nie. Die koue trek bloedvate saam, wat help om pyn en swelling te verminder. Dit is veral nuttig vir kloppende tandpyn.
Draai ’n paar ysblokkies in ’n ligte lap toe en plaas dit vir 15-20 minute oor die pynlike deel. Herhaal elke paar uur of soos nodig, maar vermy direkte kontak van die ys met jou vel.
Foto: Colgate
Pepermentteesakkies
Pepermenttee kan as ’n doeltreffende middel vir tandpynpyn dien danksy sy verdowende eienskappe. Die mentol in peperment help om tandpyn te verminder.
Hou ’n afgekoelde pepermentteesakkie vir sowat 20 minute teen die deel wat pyn. Herhaal so dikwels as nodig.
Knoffel
Knoffel word lank reeds erken vir sy medisinale voordele, veral die vermoë om skadelike bakterieë dood te maak; vandaar sy reputasie as natuurlike antibiotikum. Dit bied ook pynverligting.
Druk ’n huisie fyn en plaas dit op die probleemgebied. Jy kan ’n klein hoeveelheid sout byvoeg vir beter resultate. Maak seker dat jy jou mond daarna deeglik spoel.
Foto: Colgate
Vanielje-ekstrak
Vanielje-ekstrak bevat ’n essensiële olie wat pyn kan verdoof en ontsteking verminder.
Week ’n bietjie vanielje-ekstrak op watte en druk dit ’n paar keer per dag liggies teen die seer gedeelte. Die antiseptiese eienskappe kan help om die ontsteekte gebied te ontsmet, wat verligting bied.
Foto: YouTube
Naeltjieolie
Naeltjieolie is ’n gewilde middel vir tandpyn omdat dit as ’n natuurlike narkose en antibakteriese middel dien. Dit help om die pyn te verdoof en inflammasie te verminder.
Drup ’n paar druppels op watte en druk dit teen die pynlike gedeelte. Wees versigtig om dit nie in te sluk nie, en as jy sensitiewe vel het, verdun die olie met ’n basisolie soos klapper of amandel om irritasie te voorkom.
Tiemieolie
Tiemieolie is nog ’n doeltreffende middel teen tandpyn. Dit het sterk antifungale en antiseptiese eienskappe wat die hoofoorsaak van tandpyn kan bekamp.
Meng ’n paar druppels van dié essensiële olie met water en gorrel of pas ’n verdunde weergawe direk op die pynlike tand toe. Moenie sluk nie en herhaal soos nodig.
Aloe vera
Dié spesie aalwyn is bekend vir sy genesende eienskappe. Die toepassing van Aloe vera-jel op die pynlike tand en tandvleis kan pyn en inflammasie verminder, terwyl die antibakteriese eienskappe daarvan kan help om infeksie te voorkom.
Wend die jel verskeie kere per dag aan totdat die ongemak bedaar, en maak seker jy gebruik natuurlike Aloe vera van voedselgraad.
Koejawelblare
Koejawelblare is doeltreffende natuurlike middels vir tandpyn, danksy hul anti-inflammatoriese, pynstillende en antimikrobiese eienskappe. Hulle kan help om swelling en pyn te verminder terwyl hulle mondontsteking bekamp.
Kou vars koejawelblare of kook dit om ’n mondspoelmiddel te kry vir verligting.
Foto: Herbal
Uie
Uie het antiseptiese en antimikrobiese eienskappe. Nie net sal hierdie eienskappe help om die pyn tydelik te verlig nie; dié gewas kan die kieme doodmaak wat die ontsteking veroorsaak.
Kou ’n rou ui of hou ’n stukkie teen die pynlike tand. Dit kan simptome vir ’n rukkie verlig, hoewel nie almal die skerp smaak kan hanteer nie.
Indien jou tand ná twee dae steeds pyn, is dit noodsaaklik om ’n tandarts te spreek vir behoorlike behandeling, beveel Colgate aan.
Meeste tandpyn vereis mediese aandag, en hoewel pynstillers sonder voorskrif soos ibuprofen tydelik kan help, is professionele sorg nodig om die onderliggende probleem op te los.
Volgens Healthline moet jy ’n tandarts spreek as jy enige van die volgende simptome ervaar:
- koors;
- probleme met asemhaling of sluk;
- aanhoudende pyn wat langer as een of twee dae duur;
- swelling;
- pyn wanneer byt; en
- abnormale rooi tandvleis.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cg