On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night Nadine
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaat se grootste liefdadigheidsorganisasie bereik meer as 200 000 per jaar

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:20 Wed, 04 Sep 2024

Vrystaat se grootste liefdadigheidsorganisasie bereik meer as 200 000 per jaar | News Article
Coenie Taljaard, ds. Jannie Smith, Christa Maree,, De Wet Claassens, Rika Wolmarans, dr. Madelein Nortje en Igno van Niekerk. Foto verskaf

“Jaarliks bereik Engo meer as 200 000 individue van alle rasse, kulture en ouderdom deur sewe afsonderlike subprogramme waarvan ses eksterne dienste verskaf.”

Die voorste liefdadigheidsorganisasie in die Vrystaat en die naasgrootste in die land bereik jaarliks meer as 200 000 mense en voorsien hulle van basiese benodigdhede.

“Dit is ’n nieregeringswelsynsorganisasie sonder winsoorgmerk wat hoofsaaklik in die Vrystaat werksaam is. Dit bied sorg en berading aan kinders, gesinne, bejaardes, gestremde individue en pasiënte in nood,” sê Alda Fourie van Engo Vrystaat.

“Jaarliks bereik Engo meer as 200 000 individue van alle rasse, kulture en ouderdom deur sewe afsonderlike subprogramme waarvan ses eksterne dienste verskaf.”

‘Dit was ’n viering van unieke bydraes’

Engo het op 23 Augustus sy jaarvergadering by Summerwood in Bloemfontein gehou. Dit was nie net toegespits op uitkomste nie. “Dit was ’n viering van unieke bydraes, harde werk, toewyding en onuitputlike empatie van elkeen wat die afgelope jaar by Engo betrokke was.

“Klein dade van vriendelikheid, ure van geduldige ondersteuning en die visie om hoop te bring. Ons (is) afhanklik van God en is dankbaar vir al die seën en genade wat ons die afgelope jaar ontvang het.”

Die organisasie het die afgelope jaar verskeie behoeftes binne die gemeenskap ondersteun deur hul subprogramme:

  • Die kinder-en-jeugsorgprogram bestuur 33 kinder-en-jeugsorgsentrums, wat voorsiening maak vir 886 kinders. Basiese behoeftes soos kos en klere word aan nog 21 872 kinders in die Vrystaatse gemeenskappe voorsien. Die koste van volle sorg vir elke kind is gemiddeld R8 202 per maand.
  • Die gesinsorgprogram help jaarliks 67 193 volwassenes en kinders deur tien Engo-kantore oor die Vrystaat heen wat deur 29 maatskaplike werkers beman word. Die afgelope jaar het hierdie program 267 kinders suksesvol uit nadelige omstandighede verwyder.
  • In die bejaardesorgsektor bedryf Engo 20 sentrums waar 2 894 bejaardes deur 742 toegewyde personeellede versorg word. Die sentrums sluit een- en tweeslaapkamerwoonstelle, verswaktesorgeenhede en twee demensie-eenhede in. Nie minder nie as vier inwoners ouers as 100 jaar ontvang sorg in hierdie instellings.
  • Die gestremdesorgprogram bestuur ’n enkele gestremdedagsorgsentrum op Bethlehem wat sorg verskaf aan sowat twaalf gestremde volwassenes.
  • Engo se aannemingsdienste bestuur aannemings en ouerskapnavrae vir diegene wat hul biologiese familie wil opspoor. Die afgelope jaar het hierdie diens 30 aannemings en 39 herkomsnavrae behartig.
  • Die hospitaalsorgprogram ondersteun 22 050 individue digitaal, asook in hospitale.
  • Die personeelwelstandprogram bied welstandsprojekte vir 1 064 personeellede in diens van Engo in die Vrystaat wat hulle algehele gesondheid en werktevredenheid verseker.

Volgens Fourie is Engo opgewonde oor die laaste vier maande van die jaar en sien uit na “opwindende projekte wat hoop in mense se lewe bevorder”.

Engo moet gedurig skouer aan die wiel sit en geld insamel om sy werksaamhede moontlik te maak.

Verskeie huidige projekte bied geleenthede vir openbare ondersteuning. “Hierdie inisiatiewe is deurslaggewend vir Engo se pogings om geld in te samel vir dringende behoeftes in Vrystaatse gemeenskappe.”

Projekte wat die publiek kan ondersteun:

  • Engo Projek van Hoop, waar ’n kaartjie vir R30 of ’n boekie met 10 kaartjies vir R300 gekoop kan word. Indien jy ’n kaartjie gekoop het, kry jy ’n kans om ’n Renault Kwid Life van R196 999 te wen. Hierdie projek sluit 15 November en die wenner word op 5 Desember aangekondig. Kaartjies is aanlyn beskikbaar op hul webtuiste.
  • Engo stel op 12 September ’n splinternuwe dagboekreeks bekend in samewerking met Art de Olivia. Olivia is ’n bekende kunstenaar en dit is die vyfde jaar wat Engo met haar hande vat om hierdie dagboeke uit te bring. Die dagboeke is in A4- en A5-groottes beskikbaar, volkleur regdeur die boek met pragtige kuns, inspirerende boodskappe, halfuur afspraakplek, ’n jaar- en maandbeplanner en vele meer. Om dagboeke te bestel, besoek hul webtuiste en gaan na die aanlyn winkel.
  • Engo is opgewonde oor Omgeemaand, wat in Oktober gehou word en waarvan OFM en Bloemfontein Courant die mediaborge is. Die spesiale sivviedag is op 25 Oktober. Almal wat deelneem word aangemoedig om blou te dra en hul dorp, skool of onderneming blou te verf. Sakeondernemings wat die projek wil ondersteun, betaal R1 000 en kry dan plakkers vir hulle personeel. Individue betaal R10 per kind of R20 per volwassene.

Stuur ’n e-pos met navrae of bel 060 548 5543. 

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.