On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Miljoene se bedrieglike eise: Agtste verdagte verskyn in Noordwes-hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:04 Sat, 31 Aug 2024

Miljoene se bedrieglike eise: Agtste verdagte verskyn in Noordwes-hof | News Article
Noordwes se departement van indiensneming en arbeid het meer as R2 miljoen verloor.

“Die groep het na bewering uit twee voormalige werknemers van die departement en ses werwers bestaan. Hulle het glo [onder meer] saamgesweer om bedrieglike eise by die departement in te dien vir spookwerkers.”

’n Man van Noordwes sal weer op 17 September in die hof verskyn op meer as ’n honderd aanklagte.

Potlako Cornelius Christie (36) het Vrydag (30/8) in die Mahikeng-landdroshof verskyn op 104 aanklagte van bedrog en 101 aanklagte van geldwassery, sê lt.kol. Tinyiko Mathebula, woordvoerder van die Valke.

Sewe ander individue, wat in Junie verlede jaar in hegtenis geneem is, word ook by die saak betrek. Hulle is tans uit op borgtog en sal na verwagting op 17 September 2024 in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof by die Molopo-streekhof verskyn.

“Christie is Donderdag (29/8) in Mahikeng in hegtenis geneem deur lede van die Valke, gebaseer in Mahikeng. Hy is die jongste individu wat aangekla is in verband met ’n skema wat na bewering die Noordwes se departement van indiensneming en arbeid met meer as R2 miljoen ingedoen het,” sê Mathebula.

Die groep het na bewering uit twee voormalige werknemers van die departement en ses werwers bestaan. Hulle het glo saamgesweer om bedrieglike eise by die departement in te dien vir spookwerkers. Tussen 2019 en 2020 het dié twee na bewering saam met ses verdagtes gewerk, wat die taak gehad het om werklose individue in en om Mahikeng te werf.

Volgens Mathebula is die gewerfde individue glo meegedeel dat hulle hulp sal ontvang met die indiening van eise van verskeie fondse, soos die Droogtehulpfonds, terwyl ander na bewering geld van die WVF sou eis. 

‘Verdagtes het na bewering bedrieglike eise verwerk’

Sommiges sou glo by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in diens geneem word en ander sou glo by die Nomalalemba-projek aangestel word. Mathebula verduidelik dat die eisers opdrag gekry het om bankrekeninge oop te maak, waarvoor hulle R50 betaal is. Die verdagtes het glo die bankkaarte gehou. 

Boonop is daar na bewering van die eisers vereis om WVF-eisvorms in te vul, wat voorgee hulle is voormalige werknemers van die Impala Platinum- en Sibanye Ashanti-goudmyne. Die verdagtes het na bewering hierdie bedrieglike eise verwerk, wat uiteindelik daartoe gelei het dat die departement meer as R2 miljoen verloor het,” sê Mathebula.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.