On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Central SA

Twee vas ná driedubbele Wilgehof-moord

───   HEIDRÈ MALGAS 15:12 Fri, 30 Aug 2024

Twee vas ná driedubbele Wilgehof-moord | News Article
Betsie Kruger by haar bejaarde ma, haar dogter Janine en skoonseun Christo Theron. Foto: Facebook

“Die twee verdagtes is Vrydagoggend deur die Mangaung Metro Trio-taakspan in JB Mafora, Bloemfontein, in hegtenis geneem ná maande van intensiewe ondersoeke.”

Twee verdagtes sal na verwagting Maandag (2/9) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van moord op die Wilgehof-gesin in Bloemfontein. 

’n Vrou en haar vriend is in hegtenis geneem. Die vrou sal ook teregstaan op oortreding van die Immigrasiewet.

Die liggame van Betsie Kruger (dagsorgmoeder/eienaar), haar dogter Janine, en skoonseun Christo Theron is verlede jaar Junie in die huis gevind waar Kruger ’n dagsorgsentrum bestuur het.

“Die twee verdagtes (23 en 28) is Vrydagoggend (30/8) deur die Mangaung Metro Trio-taakspan in JB Mafora, Bloemfontein, in hegtenis geneem ná maande van intensiewe ondersoeke,” sê Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

OFM Nuus het vroeër berig dat die ondersoek al langer as ’n jaar aan die gang is. Die privaat speurder Mike Bolhuis en sy ondersoekspan het sedertdien bystand verleen. In September verlede jaar het sy span vyf verdagtes geïdentifiseer wat na bewering by die moorde betrokke was.

Antoinette Coetser, ondersoeker van Mike Bolhuis se Specialised Security Services, het genoem die motief vir die moorde dui op finansiële gewin. Die verdagtes het brutaal opgetree om geld en waardevolle items te bekom.

‘Tannie Betsie Kruger was ’n geliefde lid van die gemeenskap’

In die week van die driedubbele moord het inwoners, vriende, ouers en kinders saamgetrek om afskeid te neem van hul dagsorgma, haar dogter en skoonseun.

“Tannie Betsie Kruger was ’n geliefde lid van die gemeenskap. Onder haar liefdevolle hand as dagsorgmoeder is menige kleinding gevorm.

“Ouers wie se kinders in haar dagsorgsentrum was, is swaar getref deur die nuus,” het Valerie de Kock, Manguang-VF Plus-raadslid, ten tyde van die voorval gesê.


Lt.genl. Baile Motswenyane, die Vrystaatse Polisiekommissaris, prys en waardeer die toewyding van die Mangaung Metro Trio-taakspan vir hul uitsonderlike werk om dié beduidende deurbraak in die driedubbele moordsaak te maak.

“Ná maande se opvolg van inligting, die voorbereiding van konkrete bewyse en onvermoeide werk agter die skerms, het die inhegtenisnemings nie net verligting gebring aan die betrokke families nie, maar het dit ook die vertroue … versterk wat die gemeenskap in ons polisie moet hê,” sê sy.

OFM Nuus/Heidre Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.