On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp-aanranding: Saak weer uitgestel

───   HEIDRÈ MALGAS 12:52 Fri, 30 Aug 2024

Klerksdorp-aanranding: Saak weer uitgestel | News Article
Hilton Pretorius en Natasha Fischer was glo in ’n liefdesdriehoek betrokke. Foto: Facebook

“Wernich Botha (33) is op borgtog vrygelaat en sal tot sy volgende hofverskyning vry bly.”

Die beskuldigde in ’n moordsaak wat spruit uit ’n ernstige aanranding op ’n parkeerterrein in Klerksdorp, het Vrydag (30/8) in die landdroshof verskyn. 

Wernich Botha (33) se saak is oorgeplaas na die streekhof waar hy op 18 September sal verskyn. Hy bly uit op borgtog tot dan, sê Linda Mey, ma van Hilton Pretorius, wat begin September verlede jaar in die woonbuurt Doringkruin aangerand is en 18 dae later dood is.

Botha is kort ná die voorval in hegtenis geneem nadat hy Pretorius na bewering ernstig beseer het in ’n rusie op die parkeerterrein. Hulle was glo in ’n beweerde liefdesdriehoek betrokke. Pretorius is met ernstige kopbeserings in die hospitaal opgeneem. 

Wernich Botha word van moord aangekla. Foto: Facebook

Volgens die polisie se inligting het ’n man in September verlede jaar twee ander mans aangerand van wie een ernstige breinbeserings opgedoen het, bevestig Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.

In die video kan gesien word hoe Botha, wat geïdentifiseer is as die aanvaller, probeer om die slagoffers te help nadat hy hulle te lyf gegaan het.

Pretorius is op 20 September net ná 08:00 dood, sê Myburgh. Die aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer is toe na moord verander.

’n Skermgreep van die video op sosiale media gedoen het. Video: Facebook

Mey het die afgelope week aan OFM Nuus gesê naasbestaandes het Hilton se 33ste verjaardag op 18 Augustus gevier. Hulle mis hom baie.

“Ons bly steeds op ons knieë vir almal wat betrokke is by die ondersoek en verloop van die moordsaak. Onder die omstandighede bly dit ’n swaar en pynlike pad.”

Sakeman bewusteloos geslaan

Die familie is dankbaar vir die wonderlike ondersteuning van vriende, familie en die publiek. Dit is egter moeilike dae, veral vir Hilton se kinders wat die verlange na hul pa ál meer ervaar.

Die tweede aanrandingslagoffer in die video is die Klerksdorpse sakeman PW Roos. Hy is bewusteloos geslaan. Hy het nie ’n saak by die polisie aanhangig gemaak nie.

OFM Nuus/ Heidre Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.