Central SA
Klerksdorp-aanranding: Wernich Botha Vrydag weer in die hof─── HEIDRÈ MALGAS 05:00 Fri, 30 Aug 2024
“Die familie het op 18 Augustus Hilton se 33ste verjaardag gevier en hulle mis hom baie.”
Die verdagte in ’n moord wat spruit uit ’n ernstige aanranding op ’n parkeerterrein in Klerksdorp, verskyn weer Vrydag (30/8) in die landdroshof.
Hilton Pretorius (32) is in September in Doringkruin aangerand en het 18 dae later aan sy beserings beswyk.
‘Ons bly steeds op ons knieë vir almal wat betrokke is’
Wernich Botha (33) is kort ná die voorval in hegtenis geneem op aanklagte van poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer, wat later verander is na moord.
Linda Mey, Hilton se ma, sê sy naasbestaandes het Hilton se 33ste verjaardag op 18 Augustus gevier. Hulle mis hom baie. “Ons bly steeds op ons knieë vir almal wat betrokke is by die ondersoek en verloop van die moordsaak. Onder die omstandighede bly dit ’n swaar en pynlike pad.”
Skermgreep van die video wat die ronde op sosiale media gedoen het. Video: Facebook
Die familie is dankbaar vir die wonderlike ondersteuning van vriende, familie en die publiek. Dit is egter moeilike dae, veral vir Hilton se kinders wat die verlange na hul pa ál meer ervaar.
Mey vertel hulle verwag dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die saak na die streekhof gaan oorplaas, en vertrou ’n verhoordatum sal binnekort vasgestel word.
“Die betrokkenheid van AfriForum het ons as familie onder alle omstandighede en met alle navrae op die mees professionele wyse ondersteun met die ondersoek, prosedures en dokumentasie. Hiermee wil ek my, ons familie en vriende se persoonlike dank betuig aan adv. Gerrie Nel, Phyllis Vorster, Andrew Leask en Louis Ludick.”
Wernich Botha. Foto: Facebook
OFM Nuus het voorheen berig Pretorius het in die hospitaal gesterf. Die aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer is toe na moord verander, het Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, destyds gesê.
Maroela Media berig Botha se regsverteenwoordiger het die hof versoek om die saak tot Augustus uit te stel, aangesien Botha in Somalië werk en reëlings met sy werkgewer moet tref om hof toe te kom. Botha se borgtog geld steeds en hy is vry tot hy weer verskyn.
Die Klerksdorpse sakeman PW Roos is bewusteloos geslaan toe hy na bewering tydens die voorval tussenbeide wou tree.