On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Polisie soek ma van verlate pasgeborene in Welkom

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:44 Wed, 21 Aug 2024

Polisie soek ma van verlate pasgeborene in Welkom | News Article
Al meer babas in Suid-Afrika word verlate gevind. Foto; iStock

“Die Nasionale Aannemingskoalisie van Suid-Afrika sê in 2020 het hulle 83 babas verlate gevind waarvan slegs 34 lewend gevind is, terwyl die oorblywende 49 later dood is.”

Goudveldse polisiebeamptes ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat ’n pasgebore baba verlate in Welkom gevind is.

Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) doen ’n beroep op die gemeenskap om te help om die seuntjie se ma op te spoor. “Die baba is Sondag (18/8) omstreeks 07:45 gevind,” sê kapt. Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Na bewering het ’n inwoner op die naakte baba afgekom naby die woonstelblok se hek in Dagbreek en die polisie in kennis gestel. Die baba is na die hospitaal geneem. 

Foto ter illustrasie: iStock

Enigiemand met inligting oor die ma kan speursers. Sinah Mvundle van die GKS by 078 095 7328 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Volgens Awareness for Child Trafficking Africa is kinderverlating ’n kommerwekkende verskynsel in Suid-Afrika en dui statistieke op ’n ontstellende tendens.

Daily Maverick  het in 2020 berig 26 babahuise landwyd het gedurende die eerste twee maande van die nasionale inperking tot Junie daardie jaar 58 verlate babas ingeneem. Verlate kinders, hoofsaaklik babas, word op afgryslike plekke soos in rioolpype, oop velde, vullishope, vlak grafte, emmers, strate, buitetoilette en asblikke net meters van ’n plek van veiligheid ontdek.

Verlate babas word op vreemde plekke gevind. Foto: iStock

Die Nasionale Aannemingskoalisie van Suid-Afrika sê in 2020 het hulle 83 babas verlate gevind waarvan slegs 34 lewend gevind is, terwyl die oorblywende 49 later gesterf het.

Op 7 Junie 2022 het die Sowetan berig meer as duisend kinders is in die voorafgaande twee jaar deur hul ouers in Suid-Afrika verlaat.

Dié skokkende gegewens is deur Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, in antwoord op ’n parlementêre vraag bekendgemaak. Volgens haar is 589 kinders van April 2019 tot  Maart 2020 as verlate aangemeld, terwyl die getal van April 2020 tot Maart 2021 altesaam 435 was.

Wat om te doen wanneer jy nie jou kind kan of wil hou nie: 

  • ’n Maatskaplike werker kan jou help om die kind in pleegsorg- of aannemingsprogramme te plaas.
  • Suid-Afrika het verskeie babatoevlugsoorde, polisiekantore, kerke en kinder- en jeugsorgsentrums waar jy om hulp kan aanklop.

Awareness for Child Trafficking Africa sê ouers moet onthou in Suid-Afrika is dit ’n misdaad om ’n kind verlate te laat. “Enigiemand wat ’n kind ná geboorte verlaat kan strafregtelik vervolg word.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.