On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Wat jy van menslike papilloomvirus moet weet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:07 Wed, 21 Aug 2024

Wat jy van menslike papilloomvirus moet weet | News Article
MVP besmet net mense. Foto: Mayo Clinic

“Hierdie virus word oorgedra deur vel-tot-vel kontak, insluitend seksuele kontak. Die meeste mense wat met die virus besmet word, toon geen simptome nie, en baie ontwikkel nooit enige probleme nie."

Wêreldwyd is servikale kanker die tweede algemeenste kanker by vroue, naas borskanker.

Die menslike papilloomvirus (MPV) is verantwoordelik vir byna 80% van alle gevalle van servikale kanker. Sedert 2014 voer die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid ’n landwye veldtog om skoolmeisies teen MPV in te ent. Hierdie veldtog kry opnuut momentum in Vrouemaand.

“MPV-infeksie is een van die algemeenste seksueel oordraagbare infeksies,” sê dr. Moira van der Merwe, voorheen noodsentrumbestuurder van die Mediclinic Hoogland op Bethlehem.

MPV is ’n groep DNS-virusse wat slegs mense besmet. “Daar is meer as 200 soorte van hierdie virusse wat elkeen verskillende weefsels besmet en deur direkte kontak tussen epiteeloppervlakke versprei. .

Dr. Moira van der Merwe. Foto verskaf

MPV tipes 1 en 2 hou verband met voetvratte en algemene vratte aan kinders se vingers, terwyl tipes 6, 11, 16 en 18 vereenselwig word met vratte aan die serviks, vulva, vagina, penis, anus en mond.

“Hierdie virus word oorgedra deur vel-tot-vel kontak, insluitend seksuele kontak. Die meeste mense wat met die virus besmet word, toon geen simptome nie en baie ontwikkel nooit enige probleme nie.

“Simptome kan egter jare later verskyn wat dit moeilik maak om die aanvanklike virus vas te stel,” sê sy . Die bly kronies aktief in ongeveer 10% tot 20% van die gevalle wat eindelik lei tot kanker in die aangetaste gebied.

“In 2020 het servikale kanker 342 000 sterftes wêreldwyd veroorsaak.” Daar is ’n sterk verband tussen servikale kanker en MPV, veral MPV tipes 16 en 18.

Entstowwe is ontwikkel om infeksie te voorkom.Foto: Mayo Clinic

“As iemand eers met hierdie virusse besmet is, is daar geen spesifieke behandeling nie. Verskeie doeltreffende en veilige entstowwe is egter ontwikkel om infeksie te voorkom.

“Dit is van kardinale belang om hierdie inenting te ontvang voor blootstelling aan die virus,” is haar raad. Roetine-inenting word aanbeveel vir jong meisies, en seuns ook, om die verspreiding van MPV te voorkom. “Hierdie inenting is hoogs doeltreffend om servikale kanker te voorkom,” sê Van der Merwe.

In ’n verslag wat die MPV-inligtingsentrum in Oktober 2021 uitgereik het, word servikale kanker jaarliks by ongeveer 10 702 mense in Suid-Afrika gediagnoseer. Jaarliks sterf  5 870 sterftes weens dié siekte. 

MPV is ’n groep DNS-virusse wat slegs mense besmet. Foto: Mayo Clinic

Die voorkoms van servikale kanker in Suid-Afrika is aansienlik hoër as die wêreldgemiddeld: sowat 22,8 tot 27 per 100 000 vroue, vergeleke met die wêreldgemiddeld van 15,8.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.