On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Pas bekend: Heidedal-gemeenskap eis verwydering van Olympia-skoolhoof

───   KEKELETSO MOSEBETSI 10:00 Wed, 21 Aug 2024

Pas bekend: Heidedal-gemeenskap eis verwydering van Olympia-skoolhoof | News Article
Talle polisiebeamptes is na die skool gestuur om orde te handhaaf. Foto: Kekeletso Mosebetsi

“Ons as Heidedal se gemeenskap wil ons skool terughê.”

Ontstoke inwoners van Heidedal, Bloemfontein, eis die bedanking van die Primêre Skool Olympia se waarnemende skoolhoof.

Ouers dring daarop aan dat Olympia se waarnemende skoolhoof van haar amp onthef word. Foto: Kekeletso Mosebetsi

Hulle beweer die skoolhoof, Maggie Lebakeng, ignoreer hulle klagtes, onder meer dat sy ouers en onderwysers intimideer, sê Celeste Pienaar, een van die inwoners wat Woensdag (21/8) buite die skoolterrein betoog het.

Pienaar beskuldig Lebakeng ook van rassistiese uitlatings. Ouers is ongelukkig oor veiligheidstandaarde by die skool. Leerders bring na bewering dagga na die skool en dra gevaarlike wapens by hulle, soos messe, tydens skoolure.

“Ons as Heidedal se gemeenskap wil ons skool terughê,” sê Pienaar. “Ons is nie rassisties nie; ons wil nie rassisties wees nie, maar as ouers van die omgewing kan ons asseblief ’n plek hê vir ons kinders om te leer.”

’n Vergadering Dinsdag tussen ouers en die skoolbeheerliggaam het volgens haar nog niks opgelewer nie.

Talle polisiebeamptes is na die skool gestuur om orde te handhaaf, terwyl gesien kon word hoe leerders tydens die betoging in en uit by die skool loop. Blykbaar was Lebakeng nie Woensdagoggend op die skoolperseel nie.

In Februarie het ouers die skool daarvan beskuldig dat hy tienduisende rande se skoolgeld wanbestuur, het YFM destyds berig. Hulle was die hoenders in oor verstopte toilette en vloere wat deurdrenk was met urine.

Dit was deel van ’n lang lys klagtes, onder meer ook dat rommel op die skoolterrein ophoop en dat leerders gedwing word om water uit ’n oop JoJo-tenk te drink omdat die skool se watervoorsiening dae aaneen onderbreek word.

Lebakeng het die skoonmaakpersoneel verkwalik vir die verstopte toilette en onveilige omstandighede. Volgens haar verontagsaam werkers haar opdragte om die perseel netjies te hou.

As ouers van die omgewing eis hulle ’n plek vir hul kinders om te leer. Foto: Kekeletso Mosebetsi

Ouers het toe ook daarop aangedring dat die provinsiale onderwysdepartement ingryp om hul kinders se veiligheid te verseker. YFM het ten tyde van die publikasie van sy berig geen terugvoer van die departement ontvang nie.

OPGEDATEER: Die woordvoerder van Vrystaat Onderwys, Howard Ndaba, sê die voorval is ’n jammerte en die departement het ’n ondersoek begin na bewerings wat teen Lebakeng gemaak word. Hy het gesê die bewerings dat Lebakeng op sosiale media gesê het bruin mense moet na die Wes-Kaap gaan, is onnodig, aangesien daar geen bewyse daarvan is nie.

‘Ouers moet seker maak hul kinders dra nie sulke items skool toe nie’

“As dit waar is, sal ons dit in ’n baie ernstige lig beskou, maar tot nou toe het hulle nie vir ons bewyse verskaf om te bewys dit is wat die skoolhoof gesê het nie. Vir ons bly dit hoorsê. Ons probeer ondersoek instel, maar ons is bly dat hulle ooreengekom het dat die skool vandag moet voortgaan en leerders is terug in die klasse saam met onderwysers,” het hy gesê.

Ndaba het gesê die departement het saam met skoolpersoneel maatreëls ingestel soos skoolveiligheidskomitees, ’n aangenome polisieman, waar die departement saam met die polisie werk om sulke uitdagings te hanteer, maar op die ou end moet die gemeenskap die skool bystaan met ouers wat seker maak dat hul kinders nie sulke gevaarlike items of selfs dwelms skool toe dra nie.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.