On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ontslape Bloemfonteinse DA-raadslid ‘ware vriend vir VF Plus’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:00 Tue, 20 Aug 2024

Ontslape Bloemfonteinse DA-raadslid ‘ware vriend vir VF Plus’ | News Article
Foto: Facebook

“Rossouw was ’n man van integriteit en sy liefde vir Bloemfontein en sy inwoners was duidelik in alles wat hy gedoen het.”

Ideologies het hulle dalk nie aldag langs dieselfde vuur gesit nie, maar die VF Plus in Mangaung-metro loof ’n ontslape DA-raadslid as ’n “ware openbare dienskneg” wat alles veil gehad het vir die mense van Bloemfontein.

Rossouw Botes (65), die laaste ruk ’n proporsionele raadslid, is Maandag in die Vrystaatse hoofstad oorlede nadat hy geruime tyd probleme met sy hart ervaar het. Hy het in Augustus verlede jaar slegs die elfde mense geword by wie ’n Linkerventrikulêre hulptoestel (LVAD) ingeplant is.

Foto: Facebook

Rossouw was ’n man van integriteit en sy liefde vir Bloemfontein en sy inwoners was duidelik in alles wat hy gedoen het, sê dr. Elizabeth Snyman-Van Deventer, VF Plus-raadslid.

“Van die VF Plus-raadslede het sedert 2006 saam met hom in die Mangaung-metroraad gedien en hoewel ons in verskillende partye is, was hy ’n ware vriend vir die VF Plus.”

Botes het in Junie aan OFM Nuus vertel dat hy ná 16 jaar as DA-wykraadslid groet weens gesondheidsredes nadat hy die voorafgaande twaalf maande twee keer in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad was waar hy ’n groot hartoperasie ondergaan het.

Botes het wyk 25 (Fichardtpark en Pellissier) in die metroraad verteenwoordig. In 2015 is hy aangewys as die beste raadslid in die Vrystaat.

Hy was vier dekades ’n aktiewe lidmaat van die NG Gemeente Pellissier en het twaalf jaar as hoofdiaken gedien. Botes was ook agt jaar lank beheerliggaamlid van die Laerskool President Brand in Pellissier, waar hy as voorsitter van die ouerkomitee opgetree het en ses jaar die Spar in dié woonbuurt besit het.

Du Toit sê Rossouw se verlies laat ’n groot leemte, nie net by sy gesin nie, maar ook by elke inwoner van Bloemfontein wat hom geken het as “Meneer Water”.

Die VF Plus spreek sy innige simpatie uit met Rossouw se vrou, Eljo, hul twee dogters, familie en vriende, asook sy kollegas binne die DA. “Hy sal onthou word as ’n diensbare, vriendelike en sagte mens.”

Botes het die laaste twee maande voor sy afsterwe ’n nuwe hoofstuk in sy politieke loopbaan betree toe hy as proporsionele raadslid verantwoordelikheid aanvaar het vir toesig oor dienslewering binne die DA-koukus, insluitend die bestuur van waterwese en ander noodsaaklike dienste in die Mangaung-metro.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.