On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Seun (9) van Christiana veg dapper teen seldsame kanker

───   HEIDRÈ MALGAS 12:14 Mon, 19 Aug 2024

Seun (9) van Christiana veg dapper teen seldsame kanker | News Article
Burkitt se limfoom is op 20 April by Louis Marais (9) gediagnoseer. Foto verskaf

“Louis het in Mei sy eerste ronde chemoterapie begin en ná sy CT-skandering verlede week was die kanker nog sigbaar.”

’n Gr. 3-leerder van Christiana voer ’n dapper stryd teen ’n seldsame maar uiters aggressiewe kanker. Burkitt se limfoom (fase 3) is op 20 April by Louis Marais (9) gediagnoseer en hy kry chemoterapie in Bloemfontein.

Louis Marais het in Mei met sy eerste ronde chemoterapie begin. Ná sy CT-skandering verlede week was die kanker nog sigbaar. Hy moet nou nog ses maande van chemoterapie voltooi.

“Louis hou baie van rugby en hy het die jongste nuus baie swaar aanvaar,” sê sy ma, Marelize Enslin. “Maar hy bly positief omdat hy weet hy gaan weer rugby kan speel en volhard in alles wat hy aanpak.”

Louis Marais saam met sy ma, Marelize Enslin. Foto verskaf

Sy sê hy is “ongelooflik sterk in sy geloof en voel dat daar ’n groter doel met sy diagnose is”. Daarom het hy heel goed gevaar met die eerste paar rondes chemoterapie. “Hy voel God het hom gekies om hierdie uitdaging aan te pak.”

Dis nie aldag vir hom maklik nie, “maar hy kla baie min en is die meeste dae in ’n goeie gemoedstoestand”.

Vir sy geliefdes is die diagnose swaar want hulle het so gehoop en gebid dat Louis se toetse skoon sou gewees het ná sy eerste CT-skandering, maar hulle het uitgevind daar is nog ’n stuk van die gewas wat aktief is. “Dit het die mat onder ons voete uitgeruk,” sê Marelize.

Vriende, familie en die skool ondersteun die gesin en almal bid vir hulle. 

Louis Marais geniet dit om met sy elektriese karretjies te speel. Foto verskaf

Louis speel rugby en sy rugbyspan en die ma's het al baie vir hom gedoen. Die skool het hul ondersteuning Saterdag (17/8) getoon toe die eersterugbyspan groen armbande gedra het ter ere van Louis.

“Die dokter het gesê ons het nog ses rondes chemo oor dan sal Louis weer vir ’n skandering gaan om te kyk.”

Louis geniet dit om te fliek en met sy elektriese karretjies te speel. Sy speelterapeut bring elke dag 3D-legkaarte of speletjies saam. “Die skool het werk saamgestuur en ons doen wat ons kan wanneer hy krag en energie het om die werkies te doen.”

Louis Marais tydens sy eerste CT-skandering. Foto verskaf

Louis is ’n sterk kind, vertel sy ma. Al kry die medikasie hom onder wil hy nog steeds boer en sy motorfiets ry. Hy sukkel wel ’n bietjie om rond te hardloop. 

Hy is ook mal oor visvang, motorfietse en krieket. Hy hou daarvan om buite te wees en boer graag saam met sy stiefpa oor naweke.

Louis raak vinnig moeg, maar hy probeer nog hard om al sy stokperdjies voluit te geniet. Hy en sy sussie speel graag saam en sy help hom en moedig hom aan as sy sien hy sukkel.

OFM Nuus/Heidre Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.