On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Waterveiligheid in soeklig nadat Potch-kleuter amper verdrink

───   ZENANDE MPAME 15:22 Wed, 11 Sep 2024

Waterveiligheid in soeklig nadat Potch-kleuter amper verdrink  | News Article
Veiligheid by water in soeklig ná Potch-kleuter amper verdrink. Foto: childsafe.org.za

“Moet nooit kinders sonder toesig los rondom swembaddens, tuindamme, fonteine of emmers water nie.”

Namate die kwik dwarsoor Sentraal-Suid-Afrika styg, neem die gevaar ook toe dat kinders kan verdrink wanneer hulle lafenis in water soek.

Jong kinders loop veral die gevaar om te verdrink weens hul nuuskierigheid, maar onervarendheid; daarom word volwasse toesig aanbeveel wanneer kinders naby poele, damme en die see is.

Meer as 300 000 mense verdrink jaarliks wêreldwyd, skat die Wêreldgesondheidsorganisasie, meer as ’n derde soveel as in motorongelukke. Volgens die NSRI verdrink amper 1 500 mense jaarliks in Suid-Afrika, van wie amper ’n derde kinders onder 14 jaar is.


’n Vierjarige van Potchefstroom het Maandag (9/9) amper ’n statistiek geword ná ’n voorval by ’n swemskool. Sy verkeer in ’n kritieke maar stabiele toestand in ’n Johannesburgse hospitaal.

Die voorval is by Mooirivier Beskerming aangemeld. Die span het amper ’n halfuur geswoeg om haar lewe te red, toe besluit is om met die kleuter na ’n spesialis-instelling in Johannesburg te vlieg, berig Potchefstroom Herald .

Die preprimêre skool wat die meisie bywoon, het by navraag aan OFM Nuus gesê haar toestand is stabiel. Haar ouers hou die skooltjie op die hoogte van haar toestand soos hulle nuwe inligting van die dokters kry.

Kinders moet leer swem wanneer hulle 'n jaar oud word. Foto: iStock

Netcare 911 gee hierdie raad om jou kinders veilig in en om water te hou:

  • Moet nooit kinders sonder toesig by swembaddens, dammetjies, fonteine en emmers water los nie.
  • Beperk toegang tot swembaddens deur ’n swembadheining te installeer wat ’n selfsluitmeganisme of veiligheidsnet het.
  • Leer kinders reeds op 12 maande swem.
  • Verbied kinders om mekaar se kop onder die water te druk of rondom swembaddens te baljaar.
  • Tap al die water uit opblaasswembadjies vir jong kinders wanneer dit nie gebruik word nie.
  • Kinders moet opgelei word in oorlewingsvaardighede soos dryf en water trap.

Alle verdrinkings moet by die polisie aangemeld word. Foto: SAPD

Die polisie het ook wenke om verdrinking te voorkom:

  • Wanneer dit te warm is, moet kinders nie probeer afkoel in kanale en rioolaanlegte nie, want dit is gevaarlik.
  • Ouers moet altyd weet waar hul kinders is.
  • Bly weg van swembad-afvoerpype, watergate, riviere en damme.
  • Moet nooit swem terwyl jy onder die invloed van drank, sterk medikasie of dwelms is nie.
  • Moet nooit in die water spring om iemand te red nie. Kry professionele hulp.
  • Verdrinkings moet by die polisie aangemeld word.
  • As iemand besig is om te verdrink, bel die naaste polisiekantoor en gee die presiese ligging sodat hulle vinnig hulp kan stuur.

OFM News/Zenande Mpame cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.