On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Veediefstal: 24 skape in minibus op Villiers gevind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:22 Thu, 15 Aug 2024

Veediefstal: 24 skape in minibus op Villiers gevind | News Article
Die polisie het op die minibus en die 24 skape daarin, met ’n geraamde waarde van R66 000, beslag gelê. Foto verskaf

“In gevalle waar diere wel teruggevind word, kan DNS-toetse gebruik word om die diere aan hul regmatige eienaars terug te besorg.”

Drie vermeende veediewe sal na verwagting Donderdag (15/8) in die landdroshof op Villiers verskyn nadat hulle met 24 skape in ’n minibus betrap is.

Die drie is Woensdag in hegtenis geneem kort nadat hulle naby die Noord-Vrystaatse dorp afgetrek is, sê kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

“Die polisie het Woensdag omstreeks 05:30 inligting ontvang oor ’n verdagte minibustaxi wat moontlik by veediefstal in die omgewing betrokke is. Ons beamptes het spoedig gereageer en die voertuig op die N3-hoofweg gewaar.”

Volgens Earle het die verdagtes, wat op die R716-pad tussen Villiers en Oranjeville was, die deur van die minibus oopgemaak en skote op die polisievoertuig afgevuur. “Lede het teruggeskiet, maar die verdagtes het daarin geslaag om weg te kom.”

Met behulp van die polisie, boere en private sekuriteit is die verdagtes (24, 25 en 36 jaar oud) op verskillende paaie kilometers van die toneel af in hegtenis geneem. “Niemand is tydens die skietgeveg beseer nie. In die minibus het die polisie 24 skape met ’n geraamde waarde van R66 000 teruggekry,” sê Earle.

Veediefstal bly ’n groot bekommernis in die landboubedryf, en Vrystaat Landbou het, in samewerking met die polisie, ’n pro forma-verklaring opgestel om boere te help wanneer hulle veediefstal of ander misdaad op hul grond aanmeld.

‘Dit veroorsaak ’n groot probleem wanneer diere nie gemerk is nie’

Isabel Kruger, veiligheidsverteenwoordiger by Vrystaat Landbou, sê die persoon wat die verklaring aflê, gewoonlik die plaasbestuurder of veewagter, moet volledige persoonlike inligting verskaf. Dit sluit in naam, van, ID-nommer, woonadres, ras, geslag, ouderdom en beroep. As die verklaring oor veediefstal gaan, is die naam van die plaas en die dorp waar dit geleë is ook noodsaaklik.

Wat vee betref, moet die tipe vee (soos kruisras of suiwer ras) ingesluit word, of dit stoetvee is, en die geslag en toestand van die diere (soos dragtige verse). Die beskrywing van die identifikasiemerk, soos ’n geregistreerde brandmerk of ’n tatoeëermerk, moet ook ingesluit word. Indien beskikbaar, kan ’n foto van die merk verskaf word.

Ongemerkte diere kan lei tot boete

Kruger noem dat dit ’n groot probleem veroorsaak wanneer diere nie gemerk is nie, wat dit moeilik maak om die eienaars op te spoor wanneer diere teruggevind word. Boere kan beboet word vir ongemerkte diere, en dit is belangrik om wetgewing na te kom om probleme te vermy.

In gevalle waar diere wel teruggevind word, kan DNS-toetse gebruik word om die diere aan hul regmatige eienaar terug te besorg.

Dit is ook belangrik om te weet wie die verklaring moet aflê. In baie gevalle is dit die veewagter wat na die diere kyk en die diefstal opgemerk het. Die polisie kan ook ’n verklaring van die boer neem, indien nodig.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.